|

63 swartsakke vol rommel en tuinvullis later – nóú is onooglike erf in Viljoenskroon skoon

Die AfriForum-tak in Viljoenskroon het Saterdag (20 April) van vroegdag af die gevaarlike en onooglike oop erf op die hoek van Denyssen- en Piet Retiefstraat skoongemaak. Otto Kurten het al die vorige dag ingespring en die gras gesny, wat Saterdag se werk baie makliker gemaak het. Ongeveer 30 vrywilligers, waaronder Ignaz Streigher en sy span van Overvaal Stereo, en werkers het vullis opgetel, straatvore skoongemaak, bome gesnoei en die stormwaterkanaal skoongemaak.

Daar is 63 sakke rommel, gras en blare opgetel en verwyder en ongeveer vyf vragte boomtakke is verwyder. Hierdie groot skoonmaakprojek maak dit vir haweloses en dwelmhandelaars moeiliker om hierdie erf vir die verkeerde redes te gebruik.

“Stukkie vir stukkie maak hierdie tak ’n groot verskil in Viljoenskroon. Die netheid van hierdie erf is baie belangrik, veral omdat daar onwettighede bedryf word as dit so oorgroei is en ook omdat dit oorkant ’n ouetehuis geleë is. Baie dankie aan die vrywilligers wat kom help het, ek het groot waardering daarvoor,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Indien jy wil betrokke raak by die Viljoenskroon-tak, kontak vir Attie Barnard by 082 557 1428.

Soortgelyke plasings