AfriForum loods Rus in Vrede-veldtog in Standerton


Die AfriForum-tak in Standerton het op 5 Augustus 2017 ’n skoonmaakaksie in samewerking met Go Garbage, ’n plaaslike kontrakteur, by die begraafplaas in Britsstraat geloods.
Dít volg nadat die Standerton-begraafplaas al vir ’n geruime tyd lank in ’n haglike toestand is en dit ook onveilig vir gemeenskapslede is om hul geliefdes se grafte te besoek.
Hoewel AfriForum op 11 Julie 2017 ’n versoekskrif en ’n petisie aan Linda Tshabalala, munisipale bestuurder van die Lekwa Plaaslike Munisipaliteit, oor die toestand van die begraafplaas oorhandig het waarin die burgerregte-organisasie ook eis dat die terrein voor 1 Augustus 2017 op ’n volhoubare wyse skoongemaak word, het die skrywes geen uitkomste gebied nie.

“Die AfriForum-tak in Standerton wou saam met die munisipaliteit aan ’n volhoubare oplossing werk, maar ongelukkig blyk dit dat die munisipale bestuur geen respek vir die gemeenskap het nie,” sê Jaco Taljaard, voorsitter van AfriForum se Standerton-tak.

Die begraafplaas sal na afloop van AfriForum se inisiatief weer skoon, veilig en toeganklik vir die gemeenskap wees.

“Gemeenskappe kan die toekoms in hul eie hande neem deur selfdoenaksies. Inisiatiewe soos dié skep hoop in ’n gemeenskap en is ’n voorbeeld van hoe selfstandigheid deur gemeenskapslede bewerkstellig kan word,” sê Hillel Coetzer, AfriForum se streekskoördineerder vir Mpumalanga-Wes.

Soortgelyke plasings