AfriForum soek antwoorde by Mafube Plaaslike Munisipaliteit oor rioolprobleme


AfriForum eis dat die Mafube Plaaslike Munisipaliteit optree nadat Frankfort en Villiers nou al vir ’n geruime tyd in ’n rioolkrisis gedompel is. Verskeie rioollekkasies regoor Frankfort veroorsaak dat onverwerkte riool reguit in die Wilgerivier invloei wat sowel wesenlike gesondheids- as omgewingsprobleme vir dié dorp en sy mense inhou.
AfriForum het dié munisipaliteit op 5 September 2017 besoek nadat verskeie inwoners die burgerregte-organisasie genader het vir hulp omdat klagtes by die munisipaliteit op dowe ore val. Die rioollekkasies word veroorsaak deur onder meer ’n tekort aan instandhouding van infrastruktuur, kabeldiefstal en munisipale kragrekeninge wat nie betaal word nie.

“Die besoek aan die munisipaliteit het min vrugte afgewerp, aangesien Jabulani Sigasa, die burgemeester, verduidelik het dat daar weinig is wat hy kan doen, omdat die munisipaliteit in April vanjaar onder administrasie geplaas is. Ingevolge artikel 139 van die Grondwet word ’n munisipaliteit onder administrasie geplaas omdat dit tot só mate wanbestuur is dat skulde nie betaal kan word nie. Tog is daar geen tekens dat M. Notsi en J.J. Matlole, die aangestelde munisipale administrateurs, enige vorm van ’n reddingsplan soos vereis word deur artikel 139(5) van die Grondwet implementeer nie. Klagtes dat hierdie twee beamptes nooit hul selfone antwoord nie is ook aan AfriForum bekend gemaak. Matlole het gister ná verskeie probeerslae om hom in die hande te kry, laat weet dat hulle die terrein sal besoek waar die lekkasies aangemeld is,” sê Stephen Nel, AfriForum se assistentkoördineerder vir die Sentraalstreek.

AfriForum het gevolglik op 11 September 2017 ’n skrywe aan die munisipaliteit gerig waarin die hulle aandring dat alle rioollekkasies herstel en skade aan die omgewing geremedieer word. Verder is daar ook versoek dat die huidige administrateurs hul aksieplan oor hoe die munisipaliteit uit sy finansiële verknorsing gaan kom aan die publiek bekend maak, soos vereis deur die Grondwet. Dieselfde skrywe is ook aan Mokete Duma, hoof van samewerkende regering en tradisionele sake in die Vrystaat (COGTA), gerig, aangesien dit duidelik is dat die huidige administrateurs nie aan die vereistes van die Grondwet voldoen nie.
Intussen het AfriForum ook watermonsters by een van die rioollekkasies geneem om vir toetse te stuur. Dít volg nadat toetse wat vroeër vanjaar deur die departement van water en sanitasie en Rand Water gedoen is, daarop gedui het dat die Wilgerivier by Frankfort onaanvaarbare hoë vlakke van E. coli bevat.

“Die direk vloei van onverwerkte riool in die rivier is nie net skadelik vir die omgewing nie, maar ook ’n skending van die gemeenskap se menswaardigheid. Dit is ’n skande dat niemand by die munisipaliteit eienaarskap van hierdie probleem vat nie. AfriForum sal nie rus totdat hierdie probleem op ’n volhoubare wyse aangespreek word nie,” sluit Nel af.

Soortgelyke plasings