Lesufi stel sperdatum vir kommentaar oor skoleregulasies uit; gaan voort met politieke spel


Die burgerregtewaghond AfriForum het verneem dat die Gautengse onderwysdepartement onder leiding van LUR Panyaza Lesufi die sperdatum vir ouers om kommentaar op die nuwe voorgestelde skoleregulasies te lewer tot 14 September uitgestel het.

“Lesufi gaan egter voort om ’n politieke spel te speel ten koste van leerders in die Gautengse onderwysstelsel. Hy het vanoggend getwiet: ‘I declare, it will happen, a non racial [sic] quality education for all in our lifetime. You might have oppressed our grandparents and gave our parents gutter education and succeeded but you will never oppress our children and our children’s children and succeed, never! Aowa!’” sê Carien Bloem, projekkoördineerder vir onderwys by AfriForum.

Hiermee ontken hy dat daar geen rasbeperking ten opsigte van skooltoelating in Gauteng geld nie, terwyl die vernaamste redes vir swak onderrig in wanfunksionele skole ’n gebrek aan moedertaalonderrig, oorvol fasiliteite, die ideologiese speletjies van vakbonde en gebrekkige kwalifikasies van onderwysers is.

“Dít is alles faktore waarna Lesufi as LUR moet verwys en waarvoor hy nie die blaam na ander kan verskuif nie.”

AfriForum moedig ouers aan om steeds kommentaar teen die voorgestelde regulasies te gaan lewer by www.virskole.com. Meer inligting oor dié regulasies kan ook op AfriForum se webblad bekom word onder die skakel #VIRSKOLE.

Soortgelyke plasings