| |

AfriForum se Wes-Rand- en Vaaldriehoek-takke ontvang handreiniger en gesigmaskers

AfriForum se Wes-Rand- en Vaaldriehoek-takke het op 20 April 2020 handreiniger en gesigmaskers ontvang om hulself en die gemeenskap teen die opdoen van COVID-19 te help beskerm. 54 vyf liter bottels handreiniger en 540 gesigmaskers is aan verskeie takke afgelewer om in hulle gemeenskap te gaan versprei waar daar nood is.

Dít volg nadat die burgerregteorganisasie die afgelope twee weke ’n nasionale projek van stapel gestuur het waartydens 15 000 bottels handreiniger aan verskeie polisiestasies, nooddienste en ouetehuise geskenk is. AfriForum het op 15 April 2020 ’n verdere 4 000 bottels handreiniger en 3 200 gesigmaskers na sy 53 takke in die noordstreek versprei om gemeenskappe te ondersteun.

“AfriForum se Wes-Rand- en Vaaldriehoek-takke bied deurlopend bystand aan hul gemeenskappe om te verseker dat hulle die nodige hulp kan ontvang om die verspreiding van COVID-19 te help voorkom,“ sê Dewet Ungerer, AfriForum se distrikskoördineerder vir Wes-Rand.

Die Randfontein- en Westonaria-takke het reeds reiniger en maskers onderskeidelik aan die elektrisiteitsafdeling en die verkeersdepartement oorhandig. Die Heidelberg-, Vereeniging- en Fochville-takke het voorraad aan die verkeersdepartemente, polisiekantore, plaaslike karwagte en plaaslike buurtwagte verskaf. Die Roodepoort-, Krugersdorp-, Vanderbijlpark- en Midvaal-takke beplan ook om van die voorraad verder in hul gemeenskappe te versprei.

AfriForum doen ’n beroep op gemeenskappe om die organisasie se Facebook-blad gereeld te besoek om die nuutste inligting oor die staat van inperking en COVID-19 te kry.

Raak vandag nog by jou naaste AfriForum-tak betrokke en wees deel van die verskil: SMS jou naam na 45341 (R1).

Soortgelyke plasings