|

AfriForum se Roodepoort-buurtwag arresteer verdagtes

Die AfriForum-buurtwag in Roodepoort het op 20 Julie 2020 verskeie arrestasies uitgevoer waartydens verdagtes vir die besit van plofstof en kabeldiefstal gearresteer is. Van die verdagtes wat ook in hegtenis geneem is, is onwettige immigrante. Dít volg nadat dié buurtwag ’n roetinepatrollie saam met die SAPD, GPF en ander eenhede uitgevoer het. Nadat ’n roetinepatrollie weer op 21 Julie uitgevoer is, is nog vier verdagtes weens kabeldiefstal aangekeer.

Danksy die goeie samewerkingsverhouding tussen die rolspelers kon hulle daarin slaag om leidrade van die gemeenskap op te volg en gesamentlik werkbare planne beraam om die verdagtes vas te trek. Die onwettige immigrante sal aangehou word totdat hulle later vandeesmaand na hul land van herkoms gedeporteer word. ’n Ondersoek sal na die koperdiewe geloods word om te bepaal by watter sindikaat hulle betrokke is. Die plofstof, koper wat 100 m lank en 5 cm in deursnee is, is aan Prasa terugbesorg.

“Samewerking tussen verskillende rolspelers is een van die beginsels van gebiedsbeskerming. Hierdie arrestasies is ’n goeie voorbeeld van die resultate wat bereik kan word wanneer gemeenskappe nie terugstaan nie,” sê Llewellynn Hemmens, AfriForum se provinsiale koördineerder vir die noordstreek.

Raak vandag nog by AfriForum se Roodepoort-buurtwag betrokke: SMS jou naam na 45340 (R1).

Soortgelyke plasings