|

AfriForum se Standerton-buurtwag help om inbrake te voorkom

AfriForum se Standerton-buurtwag het sigbaarbaarheid in die Kosmos- en Florapark-woongebiede verhoog nadat die buurtwag agtergekom het dat die getal inbrake toegeneem het. Die inbrake wat by Kasselman Veiligheidsdienste aangemeld is, toon dat tussen vier en ses inbrake per week in dié buurte voorgekom het.

Die AfriForum-buurtwag het daarom sy sigbaarheid in dié buurte verhoog en die hulp van Nystiq/Farm Patrol ingeroep sodat bykomende patrollies gehou kon word. Kasselman Veiligheidsdienste het bykomende voertuie ontplooi en voetpatrollies in die mees geaffekteerde areas van stapel gestuur. Die buurtwag en SAPD het ook meer sigbaarheidspatrollies gehou. Verdagte voertuie en persone wat tydens patrollies in dié omgewings opgemerk is, is danksy dié optrede uit die gebied verdryf.

Volgens ’n databasis wat bygehou is, was dié bykomende veiligheidsbeplanning ’n groot sukses: Geen inbrake is die afgelope twee weke aangemeld nie.

“AfriForum bedank alle veiligheidsrolspelers en veral die buurtwaglede, SAPD, Nystiq/Farm Patrol en Kasselman Veiligheidsdienste vir hul samewerking. Dié samewerking en optrede is noodsaaklik om inwoners se veiligheid te verseker,” sê Gerhard Moll, voorsitter van AfriForum se Standerton-buurtwag.

Raak vandag nog by AfriForum se Standerton-buurtwag betrokke: SMS “Buurtwag” na 45350 (R1) en word deel van die oplossing.

Soortgelyke plasings