|

AfriForum maak skenking aan Oos-Randse kliniek en vat hande teen verslawing

Die burgerregteorganisasie AfriForum se Kempton Park-tak en gesondheidsportefeulje het vandeesweek gesigmaskers en handreiniger aan die Elim-rehabilitasiesentrum in Kempton Park aan die Oos-Rand geskenk.

Elim behandel mense met allerlei verslawings en het 60 liter handreiniger en 100 gesigmaskers in ontvangs geneem. Daarbenewens het AfriForum en Elim ook begin saamwerk om verskeie tipe verslawings, vernaamlik dwelms, in Kempton Park hok te slaan.

Jan Vermaak, voorsitter van AfriForum se Kempton Park-tak, sê sulke samewerking is noodsaaklik in die stryd teen gesondheidsuitdagings soos COVID-19 en verslawing. “Ons bou voort op die goeie samewerking tussen die organisasies en ons ondersteun mekaar.”

Dr. Eugene Brink, bestuurder van Gesondheidsake by AfriForum, sê daar is steeds ’n groot nood wat ontsmettingsmiddels en beskermingstoerusting betref. “Instellings het in menigte gevalle nie hiervoor begroot nie of kan dit bloot nie bekostig nie. Die COVID-19-pandemie is ver van verby en die langdurigheid daarvan plaas groot druk op instellings se hulpbronne. Hulle sien om na weerlose en afhanklike mense en kan nie werk indien hulle nie oor sulke toerusting beskik nie.

“Elim is ’n gerekende en ervare rolspeler wat die bekamping van verslawing betref en ons is bevoorreg om hande met hulle te vat om hierdie euwels in die gemeenskap hok te slaan. Ons beoog ook om die stryd teen verslawing landwyd uit te brei,” sê Brink.

AfriForum loods boonop eersdaags ’n mobiele kliniek in Kempton Park en gaan sodoende verskeie voorkomende en genesende aksies onderneem om die gemeenskap se gesondheidsbehoeftes aan te pak.

Raak vandag nog deel van AfriForum se Kempton Park-tak en maak ’n daadwerklike verskil in jou gemeenskap. SMS jou naam na 45342 (R1) en word deel van die oplossing.

Soortgelyke plasings