|

AfriForum se Tzaneen-buurtwag ontvang opleiding en brandbestrydingstoerusting

AfriForum-buurtwaglede in Tzaneen het op 22 Augustus opleiding in brandbestryding ontvang wat deur die Letaba Fire Protection Association aangebied is.

Altesaam 13 lede het die opleiding voltooi. AfriForum se Tzaneen-tak het ook ’n brandblusser-eenheid ter waarde van R17 000 vir die buurtwag aangekoop wat tydens noodgevalle op enige bakkie gelaai kan word om die brandweer, Brandbestrydingsvereniging en gemeenskap by te staan.

Die opleidingskursus het oor die bestryding van veldbrande gehandel en watter foute vermy moet word. Lede het ook opleiding ontvang oor hoe om die brandblusser-eenheid te gebruik.

Wegholbrande is ’n gereelde verskynsel in en om Tzaneen. Tydens die brandseisoen in 2019 was daar heelparty brande in die Tzaneen-omgewing; verskeie strukture en huise het afgebrand en brandbestryding moes vir dae aaneen toegepas word.

Uwe Kroh, veiligheidskoördineerder van AfriForum se Tzaneen-tak, het almal wat aan die opleiding deelgeneem het, asook die Brandbestrydingsvereniging bedank. “Die kursus was baie deeglik en leersaam. Ons besondere dank aan Ruan Snyman van die Letaba Fire Protection Association vir die aanbieding van hierdie kursus en vir ons lede wat hulle tyd afgestaan het om die kursus by te woon.”

“Hierdie is ’n goeie voorbeeld van ’n buurtwag wat proaktief optree om hulself te bemagtig om weerbaar te wees vir die bedreigings in hul gemeenskap. Die vrywilligers het nie slegs hulle Saterdag prysgegee nie, maar wys ook hierdeur hulle toewyding om hul geliefdes en gemeenskap te dien en te beskerm in die toekoms,” sê Andries Opperman, AfriForum se veiligheidskoördineerder vir Limpopo.

Raak vandag nog by AfriForum se buurtwagte betrokke: Laai die Telegram-toep af en soek vir @AfriForumBuurtBot (https://t.me/AfriForumBuurtBot) of SMS “Noordstreek” na 45350 (R1).

Soortgelyke plasings