|

NOORDWES SE VULLISTERREINE IN HAGLIKE TOESTAND

AfriForum het vanjaar 153 vullisterreine landwyd geoudit as deel van dié organisasie se nasionale projek om die gehalte van vullisterreine in Suid-Afrika te meet.

Slegs 2 uit 21 vullisterreine wat in Noordwes geoudit is het aan nasionale standaarde voldoen. Kragtens toepaslike wetgewing en regulasies, waaronder die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Vullis 59 van 2008, moet ’n vullisterrein aan bepaalde vereistes voldoen.

Volgens Petrus Coetzee, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico, is die meeste vullisterreine in Noordwes in ’n haglike toestand. “Die meeste vullisterreine is in ’n slegte toestand en dit kan hoofsaaklik toegeskryf word aan die onderskeie munisipaliteite wat versuim om die infrastruktuur en toerusting van die vullisterreine te herstel en te onderhou.”

Coetzee sê die algemeenste probleme wat AfriForum tydens die oudit aangetref het, is die afwesigheid van afvalbestuurslisensies en ’n algehele wanbestuur van terreine. “Die meeste van die terreine het ook nie die nodige personeel om dit te bestuur nie en daar is feitlik geen toegangsbeheer nie. Die gebrek aan toegangsbeheer lei daartoe dat mense op die terreine woon.”

Munisipale verval is aan die orde van die dag en dit is ooglopend dat veral kleiner munisipaliteite onder grootskaalse wanbestuur gebuk gaan.

AfriForum het in die laaste twee jaar by verskeie geleenthede met Barbara Creecy, minister van Omgewingsake, en haar span vergader. Ses terreine is geïdentifiseer wat die departement in samewerking met AfriForum gaan aanpak om dit weer op standaard te bring. AfriForum gaan ook daarop fokus om saam met munisipaliteite die probleme by sommige van die terreine in die provinsie aan te pak en om druk toe te pas om sekere terreine weer reg te ruk. AfriForum sal die proses deurlopend moniteer om te verseker dat die vullisterreine se standaard genoegsaam verbeter.

  • Lees die volledige verslag hier.

Soortgelyke plasings