|

AFRIFORUM SE ZEERUST-BUURTWAG BEHAAL TALLE SUKSESSE IN JULIE

Die AfriForum-buurtwag in Zeerust het in Julie verskeie suksesse behaal, benewens die feit dat hulle gereeld patrollies ry om die gemeenskap veilig te hou. Die buurtwag het kameras in die dorp wat hulle in staat stel om risiko’s en misdaad dadelik te identifiseer. In Juliemaand het die Zeerust-buurtwag gereageer op agt huisbrake, drie pogings tot diefstal by selfoontorings (een poging van die verdagtes het ongelukkig geslaag), en drie verdagte voertuie wat opgemerk is.

“Daar is goeie samewerking tussen al die rolspelers en inligting word uitgeruil wat take baie vergemaklik. Ons doen egter ’n beroep op die publiek om sake aan die SAPD te rapporteer, sodat geregtigheid hopelik kan geskied en dat akkurate statistiek geskep kan word. Dit help ook die buurtwag om probleempunte en -areas te identifiseer en meer patrollies word dan in daardie gebied gery,” sê Pierre van der Walt, leier van AfriForum se Zeerust-buurtwag.

“Hierdie suksesse is weereens ’n bewys dat AfriForum se spesialisopleiding, toerusting, plaaslike en nasionale radionetwerke en samewerking met ander rolspelers uiters suksesvol is. Die feit dat gemeenskapslede inligting direk aan die buurtwag kan kommunikeer, maak vinnige optrede deur die buurtwag moontlik. Goeie samewerking tussen die buurtwag, polisie en plaaslike veiligheidsinstansies stel ons in staat om die gemeenskap in tye van nood by te staan,” sê Joseph Renaud, AfriForum se veiligheidshoof vir die sentraalstreek.

“Ons is baie dankbaar teenoor die AfriForum-buurtwag in Zeerust. Dit is werklik ’n opoffering wat gemaak word en ’n besluit wat geneem word deur mense om hulle gemeenskap veiliger te maak vir almal wat daar woon. Die buurtwag doen groot werk om hulle gemeenskap te help beveilig,” sê Petrus Coetzee, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.

Raak vandag nog betrokke by AfriForum se Zeerust-buurtwag: SMS “Zeerust” na 45353 (R1).

Soortgelyke plasings