|

Forum Nuus: Die week se blitsflits

Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch

Groente in tonnels of groente op sypaadjies, om gesonde kos op mense se tafels te sit is belangrik en AfriForum se takke doen ook hier hul deel. Pragtige groen spinasie (wat Popeye skoon jaloers sal maak) floreer tans in die Bethal-tak se plaaslike groentetonnel en AfriForum se Kaapstad-Noord-tak het in samewerking met Jesus in Aksie (JiA) 20 vrugtebome by die Brackenfell-stasie geplant.

AfriForum se Kraaifontein-tak plant bome.

Takke soos dié in Kraaifontein, Mosselbaai en Upington het bewys dat hulle ook groen vingers het deur bome in hul onderskeie dorpe te plant as deel van AfriForum se nasionale boomplantmaand.

Cairn-hoewes spog met nuwe toerusting om misdaad te help bekamp nadat die Nelspruit-tak twee nuwe kameras aan dié plaaslike plaaswag geskenk het.

Kameras wat in Cairn opgerig is.

Die Centurion-tak het ook ’n reuseslaggat wat vir meer as twee maande ’n veiligheidsrisiko vir inwoners veroorsaak het, herstel.

In reaksie op die staat se onlangse aankondiging om polities gedrewe misdade te vervolg wat tydens apartheid gepleeg is, het AfriForum die afgelope week ‘n doktumentêr uitgereik wat die soeklig werp op ANC-lede en hul alliansievennote se misdade tydens apartheid. Volgens adv. Gerrie Nel, hoof van Afriforum se privaatvervolgingseenheid, blyk daar gronde te wees vir vervolging in talle van die sake waarin ANC-lede en bondgenote die verdagtes is. Indien die staat in dié geval ook selektief sou vervolg, sal die privaatvervolgingseenheid privaat vervolging oorweeg.  

‘n Reuseslaggat is in Centurion herstel.

AfriForum het vandeesweek ook sy dringende hofaansoek teen ses respondente beteken in die saak oor die vrylating van Jacob Zuma op mediese parool. Dié respondente is Arthur Fraser, nasionale kommissaris van Korrektiewe Dienste, die mediese paroolraad, Zuma self, die sekretaris-generaal van die geregtelike ondersoek na bewerings van staatskaping en bedrog in die openbare sektor, insluitend staatsorgane, die Minister van Justisie en Korrektiewe dienste en die President van die Republiek van Suid-Afrika. Ernst Roets, hoof van beleid en aksie by AfriForum, sê hierdie is ’n saak van nasionale belang en dat dit ’n skande is indien mense op grond van hul politieke aansien bevoordeel word.   

Die ANC is ook in die sop by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID). AfriForum het ’n brief aan die kommissaris van SAID, Edward Kieswetter, geskryf waarin hul duidelikheid vra oor die beraamde R100 miljoen aangemelde uitstaande belastingskuld van die ANC. Luidens mediaberigte is daar wél inkomstebelasting van ANC-werknemers se salarisse verhaal maar nooit aan die SAID oorbetaal nie.

Die organisasie het vandeesweek ook sy voet neergesit teen onwettige onderskepping van kommunikasie en het sy regspan opdrag gegee om moontlike regsaksie teen polisiebeamptes te ondersoek wat hulle posisies misbruik vir politieke doeleindes. Dit volg ná Bess Nkabinde, afgetrede regter van die Konstitusionele Hof wat aangestel is om ondersoek in te stel na die onderskep van kommunikasie, haar intelligensieverslag verlede week aan die parlement se gesamentlike staande komitee oor intelligensie voorgelê het.

Volgens Nkabinde is dit ’n skokkende werklikheid dat ondersoekers oneerlik is oor die redes vir hulle aansoeke om mense se kommunikasie te onderskep. Een so voorbeeld is toe joernaliste se persoonlike kommunikasie onderskep is ná polisielede inligting gefabriseer het om toestemming by ’n regter te kry om die kommunikasie te onderskep.

Kyk AfriForum se nuwe dokumentêr hier:

Soortgelyke plasings