|

Forum Nuus: Die week se blitsflits

Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch

Die noodsaaklikheid van die druk wat AfriForum se privaatvervolgingseenheid uitoefen, is vandeesweek opnuut beklemtoon toe Khumbulani Malinga in die streekhof in Middelburg, Mpumalanga, skuldig gepleit het op aanklag van strafbare manslag nadat hy Lizel Visagie op 23 Maart 2019 in dié dorp doodgery het. AfriForum se privaatvervolgingseenheid het Visagie se familie in die saak bygestaan nadat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) aanvanklik die klagtes teen Malinga laat vaar het.

Lizel Visagie

Die burgerregtewaghond en Solidariteit het ook aangekondig dat hulle gerat is om rassediskriminasie tot in die hoogste howe te beveg en gereed is om die uitspraak dat die Departement van Toerisme se hulpfonds onwettig is, in die Konstitusionele Hof te verdedig. Dit volg nadat die departement aangekondig het dat hulle die onlangse uitspraak gelewer deur die Bloemfonteinse appèlhof in die Konstitusionele Hof sal beveg.

Die Departement van Toerisme se hulpfonds is onlangs onwettig verklaar.

Weens politieke inmenging en rassevooroordeel wat gebruik word om die regsbeginsels van gelykheid en geregtigheid te beïnvloed, het AfriForum besluit om regshulp te verleen aan Garth Simpson (68), ’n boer van Dundee, wat van moord aangekla word op Qiniso Dlamini (17) ná ’n skietvoorval op sy plaas enkele weke gelede. Na ’n voorval wat verband hou met gesteelde vee wat Simpson op sy plaas geskut het, het ‘n struweling na bewering ontstaan en gevolglik het ’n skoot uit Simpson se geweer afgegaan en Dlamini getref. AfriForum het by hierdie saak betrokke geraak omdat dit lyk of Simpson ’n baie goeie verweer openbaar en moontlik suksesvol sal wees in sy verdediging.

Ernst Roets en die strafregkenner, dr. Llewelyn Curlewis.

Die tak in Oudtshoorn het ook ’n oorwinning in die Hooggeregshof in Kaapstad behaal waar hulle die Oudtshoorn Plaaslike Munisipaliteit se onwettige rioolheffings betwis het. Regter Kate Savage het die munisipaliteit 120 dae gegun om ’n regstelling te maak.

Verder het AfriForum se buurtwagte die stryd teen misdaad in hul dorpe voortgesit. Buurtwagte in Ermelo en Nelspruit het vandeesweek hul dorpe help beveilig deur patrollies te hou en die Overstrand-tak het twee nuwe kameras in onderskeidelik Lynx- en Vermontlaan in Vermont opgerig om met misdaadbekamping te help.

Die nuwe kameras in die Overstrand.
Die Ermelo-buurtwag

’n Buurtwag-lid van die Overstrand-tak het ook vandeesweek ’n verdagte vasgetrek en in hegtenis geneem ure na ’n aanval op ’n bejaarde egpaar wat naby Stanford woon. Die egpaar is gelukkig nie ernstig beseer nie.

Soortgelyke plasings