|

Cassanga-familie eis geregtigheid vir “vermoorde” pa, maar geregtigheid vertraag deur Tembisa-onluste

Die familie van JJ Cassanga, ’n veiligheidswag wat na bewering deur stakende Clover-werknemers vermoor is, het gevra dat die wiele van geregtigheid met dringendheid draai. Dit sou egter nie hierdie week gebeur nie. Die vyf mans wat daarvan beskuldig word dat hulle Cassanga en Terence Tegg vermoor het, het nie gister in die Thembisa Landdroshof verskyn nie weens die voortslepende onluste in die gebied. Die saak is tot 8 Augustus 2022 uitgestel.

Tegg is na bewering in Februarie by Clover se fasiliteit in Olifantsfontein vermoor. Cassanga is deur die gewelddadige skare aangeval, wat hom erg aangerand het. Hy het in Junie aan die beserings beswyk wat hy in die aanval opgedoen het.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid staan tans vir Michele Bebbington, wat aan Tegg verloof was, en die Cassanga-familie by om te verseker dat die saak die aandag kry wat dit verdien.

Die aanval het Cassanga met ernstige koptrauma en breinbeserings gelaat. In die maande tot sy dood het hy aan stuipe en hoofpyne gely. Hy het in sy dokter se spreekkamer inmekaargesak en vermoedelik aan ’n breinaneurisme gesterf.

Sofia Johannes, Cassanga se niggie, het hom as ’n vaderfiguur beskryf en iemand na wie haar hele familie opgekyk het. “Ek is hartseer en seergemaak, al sal hierdie mense boet vir wat hulle gedoen het. Hulle sal agter tralies wees. Maar ek sal nooit my oom kan bel en met hom praat nie. Hulle het iemand weggevat wat vir ons baie spesiaal is, en hulle het ’n pa weggevat van sy kinders wat nog minderjariges is en steeds hul pa in hul lewens nodig het,” sê sy.

Johannes glo daar moet geen verdere vertragings in die saak wees nie, en voeg by dat daar genoeg bewyse beskikbaar is van die aanvalle op Tegg en Cassanga om die moordsake te bewys. “Elke bewysstuk is daar, so ek verwag dat geregtigheid moet geskied en al bring dit JJ nie terug nie, sal dit ons ’n gevoel van verligting gee dat die oortreders vir hul misdade boet.”

Johannes het AfriForum se privaatvervolgingseenheid vir die volgehoue ondersteuning bedank. “AfriForum was betrokke sedertdien die dag van JJ se aanval. Ek kry voortdurend opdaterings oor wat gebeur, wie in hegtenis geneem is, wat in die hof gebeur het en wanneer die volgende hofdatum is. Ons as familie waardeer werklik die pogings wat AfriForum in hierdie saak aanwend om te verseker dat geregtigheid geskied.”

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, sê hulle sal voortgaan om die saak fyn dop te hou en die broodnodige ondersteuning en leiding aan die geaffekteerde families te verskaf.

Soortgelyke plasings