|

AfriForum se Germiston-tak ontvang opleiding in trauma-ondersteuning

Die AfriForum-tak in Germiston het op 10 Augustus waardevolle opleiding van AfriForum se trauma-eenheid ontvang. Die opleiding was gefokus daarop om die lede van die tak in staat te stel om slagoffers van traumatiese gebeure by te staan.

Die opleiding het veral gefokus op die bystand van persone wat in motorongelukke was en slagoffers van huisrowe, verkragting en plaasaanvalle. Die opleiding is aangebied deur Hennie Human en Magda Coetzee van AfriForum se trauma-eenheid.

“Die groot meerderheid van die samelewing is al deur traumatiese gebeure geraak en het dit oorleef. Ons buurtwaglede word ook op ’n gereelde basis konfronteer met traumatiese gebeure en is gereeld die eerste mense op ’n toneel om bystand te bied nadat gemeenskapslede deur ’n traumatiese ervaring is. Daarom is dit van kardinale belang dat ons toegerus moet wees met die nodige kennis om aan slagoffers ondersteuning te bied,” sê Elize Hern, voorsitter van AfriForum se Germiston-tak.

“Vir die grootste persentasie trauma-oorlewendes is die gebeure wel iets van die verlede, maar die ontstellende gedagtes, negatiewe gevoelens, slapelose nagte, nagmerries en gedurige onderliggende angs bly ’n persoonlike werklikheid. Dit is hier waar trauma-ondersteuning ’n baie unieke en persoonlike rol vir slagoffers van geweldsmisdaad speel,” sê Hennie Human, slagofferondersteuningsbeampte by AfriForum se Trauma-eenheid.

“Baie dankie aan die buurtwaglede wat tyd afgestaan het om die opleiding by te woon om sodoende hulle vermoë om hulle gemeenskappe te dien te versterk. Die hantering van traumatiese gebeure is nie maklik nie maar dit is ’n kritiese behoefte in ons gemeenskappe,” sê Petrus Coetzee, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand.

Word vandag nog deel van AfriForum se Germiston-tak: SMS “Germiston” na 45340 (R1) of skakel vir Elize Hern by 083 555 5790 om betrokke te raak.

Vir enige navrae oor die AfriForum Trauma-eenheid of as iemand van die eenheid gebruik wil maak, kontak die eenheid deur 012 880 1954 of die noodnommer 064 870 8312 te skakel of deur ’n e-pos te stuur na trauma@afriforum.co.za.

Soortgelyke plasings