|

Cele bewys weereens dat hy nie bevoeg is vir rol as polisieminister nie

AfriForum Gemeenskapsveiligheid meen dat die onlangse uitlatings van Bheki Cele, minister van Polisie, dat polisielede se verlof tydens die feesseisoen gekanselleer sal word weereens daarop dui dat Cele geen benul het van wat sy rol of magte is nie.

Die minister beskik nie oor die outoriteit om operasionele of arbeidsbesluite oor die polisie en sy lede te maak nie. Net soos wat Cele geen reg gehad het om mense op strande te intimideer tydens die Covid-19 staat van inperking nie en net soos wat die minister geen reg het om sy lyf speurder te hou by hoëprofielmisdaadtonele nie, het hy ook nie die reg om besluite te maak oor polisielede se verlof nie.

“Pleks spreek die minister die reuse tekort aan lede in die polisiediens permanent aan. Alhoewel misdaad as reël toeneem voor en tydens die feesseisoen, is die tekort aan polisiebeamptes ’n probleem wat reg deur die jaar ’n negatiewe impak op misdaadvoorkoming het” sê Jacques Broodryk, AfriForum se woordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid.

“Cele het al keer op keer bewys dat hy nie sy magte of die funksie van sy pos verstaan nie. Hoe moet toegewyde lede van die polisiediens gemotiveer bly as die minister op ’n gereelde basis onbenullighede kwytraak,” sluit Broodryk af.

Sou die minister probeer om hierdie planne deur te voer, sal dit beslis lei tot arbeidsdispute in ’n tyd wanneer polisielede gefokus moet wees op misdaad bekamping en ondersoeke.

Soortgelyke plasings