|

AfriForum gaan beplande vergroting van munisipale areas beveg

AfriForum, in samewerking met sy span spesialiste, is besig om kommentaar op te stel teen die vergroting van sekere munisipale areas in die land. Dit volg nadat die Munisipale Afbakeningsraad (MAR) aangekondig het dat hy in die proses is om die skuif van verskeie munisipale grense in die land te oorweeg. Deur hierdie verandering poog die raad om sekere munisipaliteite te vergroot sowel as om nuwe munisipaliteite te skep.

As deel van ’n verskeidenheid veranderinge beplan die raad onder meer die vergroting van die Mangaung Metropolitaanse Munisipaliteit, Rustenburg-munisipaliteit, eThekwini Metropolitaanse Munisipaliteit, en die Buffalo City Metropolitaanse Munisipaliteit se grense. Dit sluit ook die stigting van twee nuwe Metropolitaanse Munisipaliteite in KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap in, deur die verskuiwing van huidige grense.

Hierdie veranderinge sal onder meer die volgende tot gevolg hê: Dealesville, De Wetsdorp, Soutpan, en Tweespruit sal deel van die Mangaung Metro vorm. Rustenburg, Swartruggens, Koster en Derby sal saam deel vorm van ’n nuwe munisipaliteit.

“AfriForum is bekommerd oor hierdie proses wat die MAR van stapel gestuur het, en sal in baie dele van die land die beplande veranderinge teen staan. Indien die raad suksesvol is sal dit tot gevolg hê dat al die bestaande Metropolitaanse Munisipaliteite se areas van verantwoordelikheid merkwaardig vergroot. Dit sal hierdie munisipaliteite se befondsing laat toeneem en vergrote geleenthede skep vir korrupte amptenare om geld onregmatig te bekom,” sê Petrus Coetzee, raadgewer vir plaaslikeregeringsake by AfriForum.

Coetzee voer verder aan dat die oplossing vir Suid-Afrika se wanbestuur van munisipaliteite en die totale ineenstorting van dienslewering by ’n federale benadering lê, en nie by ’n sterker sentralistiese stelsel soos wat dié veranderinge sal meebring nie. “Mangaung is ’n voorbeeld van ’n uiters oneffektiewe Metro, waar inwoners reeds jare lank gebuk gaan onder haglike toestande as gevolg van swak dienslewering. Dit maak hoegenaamd nie sin om ’n munisipaliteit wat totaal en al gefaal het se verantwoordelikheid te vergroot nie. Laastens is ons ook bekommerd dat hierdie veranderings, dorpe elders in die land by wanfunksionerende munisipaliteite gaan betrek en sodoende negatief beïnvloed,” sluit Coetzee af.

AfriForum moedig gemeenskappe aan om betrokke te raak en kommentaar in te dien. Besoek gerus https://www.demarcation.org.za/ vir meer inligting.

Soortgelyke plasings