|

Joernaliste belig uitdagings in Afrikaanse media by boekbekendstelling

Oorlewing, ideologie en geld was van die vroegste tye af dryfvere wat ’n rol in die bestaan en voortbestaan van die media en publikasies gespeel het. Dit is vandag nog só en ook ’n rede waarom baie publikasies al gekom en gegaan het.

Prof. Johannes Froneman, ouddosent aan die Noordwes-Universiteit, laat die kollig op hierdie en ander perspektiewe in sy nuutste boek Ter wille van oorlewing, ideologie en geld val. Dit handel oor die geskiedenis van die Afrikaanse joernalistiek en die rykheid daarvan. Die bevat navorsing wat Froneman oor 30 jaar gedoen het. Dit kos R780 en kan hier bestel word.

Ter wille van oorlewing, ideologie en geld, prof. Johannes Froneman se nuutste boek is gister bekendgestel.

Die boek is vandeesweek tydens ’n joernalistieksimposium van Akademia bekendgestel waar joernaliste ook uitgewei het oor die hedendaagse uitdagings en geleenthede in die bedryf wat wissel van kleiner nuuskantore, die verlies aan kundigheid, minder hulpbronne, digitalisering van nuus, mediagehore wat verander, skuif of oningelig is, die impak van sosiale media en nog ander tendense.

Froneman het onder meer gesê Afrikaanse koerante het hul fleur verloor. Dit is steeds ’n baie belangrike nuusbron, maar nie meer die groot rolspeler wat dit was nie.

Prof. Johannes Froneman, ouddosent aan die Noordwes-Universiteit

Volgens hom was dit ook nie net die digitale revolusie wat koerante ’n slag toegedien het nie. Die Covid-pandemie het sonder twyfel ook ’n rol gespeel by die verandering wat by lesers ingetree het.

Hy het ook gesê gemeenskapskoerante is veral ’n baie hartseerverhaal. “Hoewel die mashoofde nog dieselfde gebly het, het van die publikasies verengels, die inhoud het verswak en dit het hoofsaaklik draers van advertensies geword.”

Hy het gesê hy hoop dit kan verander en dat jong joernaliste hierdie geleenthede weer sal benut, want dit is “heerlike, fantastiese joernalistiek naby jou mense”.

Barnard Beukman, redakteur van Beeld, het gepraat oor veranderinge in die makro-omgewing en ’n era wat ’n mens sou kon beskryf as die “fees van die oningeligtes”.

“Mense het deesdae onbeperkte toegang tot inligting, maar hulle weet minder as ooit omdat hulle nie kan onderskei nie. Dít terwyl die onderskeidingsvermoë tussen betroubare inligting en vals nuus van kritieke belang vir demokrasie is.”

Barnard Beukman, redakteur van Beeld

Beukman het beklemtoon hoe noodsaaklik volhoubare opleiding van joernaliste is wat instellings nie tans doen nie. Hy meen hoewel nuusplatforms en publikasies kom en gaan, sal gehalte joernaliste altyd hul weg vind. Die Poynter Instituut wys op 37 eienskappe wat toekomstige joernaliste moet hê waarvan twee vir Beukman ononderhandelbaar is. “’n Joernalis moet goed kan skryf en ’n aktuele belangstelling in die nuusomgewing hê.”

Met verwysing na die ongemaklike glybaan van sosiale media, sê Beukman platforms is relatief. Terwyl Beeld vandag 20% van sy historiese sirkulasie het, is dié koerant meer winsgewend as tien jaar gelede. “Dis ’n verstommende gebeurtenis wat net so vinnig weer kan verdwyn.”

Hy skryf dié tendens aan verskeie faktore toe soos jonger lesers (in hul laat dertigs/veertigs) wat die aanlynomgewing verwarrend vind en na koerante terugkeer en adverteerders wat hul geld van digitale platforms terugskuif na waar die gehore ouer is en hulle ’n hoër gemiddelde besteebare inkomste het. “Daar is steeds ’n mark wat by koerante bly, wat daarvoor betaal en selfs bereid is om verder te ry om die produk te kry.”

Oor verskaffers van nuus sê Beukman die belangrikste is om jou gehoor te ken en te weet wie jy wil bereik. “Dit help nie om al die nuwe speelgoed te kry nie. Gehore beweeg vinnig en hulle verras jou. So kan potgooie byvoorbeeld soos strooi in die wind wees. Dit gaan nie oor die middel wat jy gebruik of ’n lys van goed wat jy kan doen nie, maar oor wie jy wil bereik.”

Kabous Meiring, vervaardiger, regisseur en aanbieder van Prontuit op kykNET, het gepraat oor ’n identiteitskrisis in die Afrikaanse media en die gebruik en impak van sosiale media.

Kabous Meiring, vervaardiger, regisseur en aanbieder van Prontuit op kykNET

Sy meen sosiale media het mense laat vergeet om mens te wees. Daar is verskynsels soos status anxiety op sosiale media oor waar jy jou skaar en watter ideologie jy aanhang en slagofferskap as kommoditeit wat op sosiale media uitspeel. Sy verwys ook na ’n Kyk vir my– of celebrity journalism-kultuur op sosiale media en hoe belangrik is dat teruggekeer moet word na joernalistiek met integriteit. “Ons kan altyd verbeter. En lesers en verbruikers kan ook verbeter.”

Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media, het oor die digitale nuusomgewing gepraat en gesê hoewel sirkulasiesyfers daal neem digitale gebruik nie so toe dat van ’n skuif gepraat kan word nie.

Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media

Volgens haar is Maroela Media met sy 2,2 miljoen lesers die derde mees geleesde platform in die land en ’n plek waar mense veilig voel. Sy meen ’n nuusinstansie moet aanhou doen wat werk en die regte platform vir sy lesers gebruik, terwyl nuusaanbod gebalanseerd en  betroubaar moet wees.

Maygene de Wee, ’n bekroonde en deurwinterde joernalis by Netwerk24, het haar passie vir die beroep gedeel en gepraat oor die talle groot stories wat sy al gedek het waaronder die grusame moord op Anene Booysen, die sluipmoord op Charl Kinnear en bendebedrywighede op die Kaapse vlakte.

Maygene de Wee, ’n bekroonde en deurwinterde joernalis by Netwerk24

Sy het gesê sy is ’n stem vir Afrikaanssprekendes – nie wit of bruin óf diegene wat dink daar word net een Afrikaans gepraat nie.

Joernaliste uit die bedryf onder wie Heindrich Wyngaard, Barnard Beukman, Antoinette Slabbert, Nico Strydom en Pieter Steyn het ook aan ’n paneelbespreking oor uitdagings en geleenthede in die Afrikaanse media deelgeneem waarmee die simposium afgesluit is.

Barnard Beukman, Nico Strydom, Heindrich Wyngaard, Antoinette Slabbert en Pieter Steyn.

Soortgelyke plasings