|

Potchefstroom-tak vul slaggate op as deel van #MyWoonbuurt-kompetisie

In Maart het AfriForum ’n kompetisie geloods om die gemeenskap te help om hul woonbuurte op te knap. AfriForum-lede kon vir iets stem in hulle area wat dringend aandag benodig. Die areas wat in Potchefstroom die meeste stemme gekry het, is Sentraal-area, die slaggate by Peter Mokabastraat se kruisings met Retief- en Spruitstraat, asook die Beyers Naude-laan- en Retiefstraat-kruising. Op 6 April het die Potchefstroom-tak hierdie kruisings met behulp van Dirk Venter, ’n takbestuurslid, se vernuf dié slaggate opgevul. Negentig sakkies teer, wat dié tak self aangekoop het, is gebruik om 19 m² se slaggate op te vul. 

“Hierdie kompetisie is begin sodat AfriForum-lede ’n stem kan hê en hulle behoeftes kan uitdruk. Ons beplan om hierdie kompetisie weer aan te bied en moedig lede aan om deel te neem,” sê Alta Pretorius, distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

“Ons gaan later in die jaar weer ’n kompetisie hou om nog meer lede te help om probleme in hulle woonbuurte op te los. Ons wil graag aksies aanpak wat direk ’n verskil in ons woonbuurte sal maak, daarom moedig ons inwoners aan om ons te ondersteun en deel te neem deur  te stem vir probleme wat hulle graag sal wil opklaar,” sê Jaco Grobbelaar, streekshoof vir die sentraalstreek.

Die gemeenskap sal deur middel van die tak se Facebook-blad en WhatsApp-groepe in kennis gestel word wanneer die #MyWoonbuurt-kompetisie weer gehou sal word en versoek almal om deel te neem.

Soortgelyke plasings