|

AfriForum se teenboelieveldtogspan besoek Laerskool Stephanus Roos

Die burgerregteorganisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan het op 31 Julie by die Laerskool Stephanus Roos in Pretoria besoek afgelê. Dié veldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders in.

“Dit is vir AfriForum belangrik om saam met leerders, onderwysers en ouers te werk om ’n verskil te maak en afknouery in skole hok te slaan. Veilige skole sorg ook vir ’n veilige gemeenskap, nie net nou nie, maar ook in die toekoms. Elke leerder wat die teenboeliepraatjie bywoon, word toegerus met die nodige kennis en vaardighede om as leier in situasies op te tree waar afknouery plaasvind, met ander woorde om boeliebestand te wees. Kinders word ook geleer om te kan onderskei tussen afknouery en konflik,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir jeugleierskap.

“Boeliebewusmaking is noodsaaklik in vandag se skole. Kinders is vandag soveel meer blootgestel aan boeliegedrag, insluitend op sosiale media. Daar is soms min leiding by die huis wat kinders help om hierdie situasies te hanteer,” sê Colleen Strauss, die maatskaplike werker by die Laerskool Stephanus Roos.

Vir meer inligting oor AfriForum se teenboelieveldtog besoek gerus www.teenboelie.co.za.

AfriForum se kuberboeliegids kan ook gratis hier afgelaai word.

Soortgelyke plasings