|

Machadodorp-tak vul 35 slaggate in Tobiasstraat

AfriForum se Machadodorp-tak het op 28 Julie in slegs één van dié dorp se strate, Tobiasstraat, 35 slaggate opgevul. Dit het vier taklede ’n volle dag, meer as 20 sakke teer en 40 liter bitumenemulsie gekos om die pad weer rybaar te kry.

Die uitermate hoë getal slaggate getuig van die swak toestand van die dorp se paaie. Slaggate soos dié veroorsaak nie net skade aan voertuie en hul bande nie maar hou ook ’n veiligheidsrisiko vir motoriste in omdat hulle konstant moet uitswaai.

Die Machadodorp-tak se bereidwilligheid en inisiatief bewys weereens hoe mense kan saamstaan om ’n gemeenskap te ondersteun en die veiligheid van paaie te verbeter. Hierdie projek is ’n voorbeeld van gemeenskapsbetrokkenheid en die positiewe impak wat dit op ’n dorp kan hê.

“Die opvulling van die slaggate het reeds ’n groot verskil in die dorp gemaak. Dit verminder  nie net die risiko van ongelukke nie, maar help ook om die verkeersvloei te verbeter en gee aan motoriste gemoedsrus wanneer hulle die pad gebruik,” sê Arlo van Heerden, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Laeveld.

AfriForum se Machadodorp-tak moedig die gemeenskap aan om betrokke te raak en ’n verskil te maak. Kontak Arlo Van Heerden by 066 486 7609.

Soortgelyke plasings