|

Upington-tak dra by tot ’n groener toekoms in Boomplantmaand

Die AfriForum-tak in Upington  het op 13 September in samewerking met die DA, die VF Plus en Rhino Security bome by die plaaslike Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se kantoor in Schroderstraat geplant. Nege witkareebome is op die sypaadjie buite die SAPD-kantoor geplant. Daar is ook ’n kokerboom reg agter die Kameel-monument voor die kantoor geplant wat eie aan sy soort is in die Kalahari.

Die raadslede en die plaaslike departement van Waterwese het die bome geskenk, terwyl die AfriForum-tak kunsmis en toerusting vir die projek verskaf het.

“Deur inheemse bome te plant, bewaar ons nie net ons omgewing en maak dit ’n mooier plek om in te bly nie maar ons wys ook dat ons hoop vir die toekoms het. Bome is veel meer as bloot ’n belangrike deel van die ekostelsels of ’n noodsaaklike natuurlike hulpbron – bome is simbolies van lewe,” sê Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Noord-Kaap.

“Boomplantmaand bied die perfekte geleentheid om ’n blywende verskil in ons gemeenskappe te maak. Bome het egter deurlopende sorg nodig om tot voordeel van almal te floreer en die AfriForum-tak in Upington onderneem om hierdie sorg te verskaf. Dit is simbolies daarvan dat ons hier is om te bly en hoop vir die toekoms het.”

AfriForum se Upington-tak bedank raadslid Erica Strauss, raadslid Hennie Roux en Herman Espach van Rhino Security vir ’n suksesvolle boomplantdag by die SAPD-kantoor

Die tak moedig die gemeenskap aan om deurgaans inheemse bome in hul dorp te plant en deel te wees van ’n groener toekoms.

Soortgelyke plasings