|

Vermeende dronkbestuurder in die hof oor ongeluk waarin kitskosafleweraar dood is

Agtien maande ná ’n dodelike ongeluk oor die Paasnaweek wat tot die dood van Motheo Madihlaba gelei het, het die persoon wat na bewering verantwoordelik is vir sy dood, in die hof verskyn. Jonas Moedigi Sebati het vandag vir die eerste keer in die Landdroshof op Middelburg verskyn op aanklagte van strafbare manslag en bestuur onder die invloed van drank. Madihlaba se getraumatiseerde familie voel asof die staat hulle in die steek gelaat het.

Madihlaba, ’n kitskosafleweraar, het op 16 April 2022 gewerk toe Sebati na bewering twee voertuie op ’n sperstreep verbygesteek en trompop teen Madihlaba op sy bromponie gebots het. Madihlaba is dood op die toneel. Verskeie motoriste het die ongeluk aanskou en voer boonop aan dat Sebati merkbaar onder die invloed van drank was.

Madihlaba het net ’n maand lank by die restaurant gewerk, maar is deur sy werkgewer beskryf as betroubaar, hardwerkend en gewild.

Madihlaba se ma, Granny Madihlaba, het AfriForum se privaatvervolgingseenheid in Mei verlede jaar genader omdat sy besorg was dat die saak nie die aandag kry wat dit verdien nie. Daar is intussen vasgestel dat hoewel Sebati op die ongelukstoneel in hegtenis geneem is, die polisie hom later op borg van R1 500 vrygelaat het en aangesê het om in April 2023 weer by die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) aan te meld.

Die eenheid het sedert Mei verlede jaar aan die Nasionale Vervolgingsgesag (NGV) geskryf om te bepaal waarom die verdagte nog nie in die hof verskyn het nie. Daar is aangevoer dat die ondersoekbeampte steeds op die uitslag van die bloedalkoholvlaktoets wag. Die privaatvervolgingseenheid het aanbeveel dat Sebati, gebaseer op die weergawes van verskeie ooggetuies wat die ongeluk en die vlak van Sebati se nugterheid beskryf het, van strafbare manslag en bestuur onder die invloed van drank aangekla kan word. 

Die NGV het hierdie advies geminag, en tot Mei vanjaar gewag totdat dit bevestig is dat die toetsuitslae ontvang is. Dit het ’n verdere ses maande geneem voordat die saak gereed was en Sebati gedagvaar is om in die hof te verskyn.

’n Ontstelde Granny Madihlaba het na afloop van die hofverskyninge gesê sy is dankbaar vir die eenheid se ondersteuning. “Dit is meer as ’n jaar sedert my seun vermoor is en niemand, behalwe die eenheid, was nog in aanraking met my nie. Dit is asof my kind ’n hond was. Sebati het die hond geskop en eenvoudig aangegaan met sy lewe,” het sy gesê.

Adv. Gerrie Nel, hoof van die eenheid, sê dit is betreurenswaardig dat dit so lank gevat het om die aangeklaagde te dagvaar om in die hof te verskyn. “Die regspreuk ‘uitgestelde geregtigheid is afgestelde geregtigheid’ geld ook in hierdie saak. Dit is nie altyd noodsaaklik om te wag op die uitslag van bloedalkoholvlakke in sake waar daar genoegsame ander bewyse is om die aanklag te ondersteun nie. In hierdie geval is daar talle mense wat aanskou het hoe Sebati op daardie dag bestuur het, en hulle kan ook getuig oor die vlak van sy nugterheid,” sê Nel.

Nel het die staat aangemoedig om nou met die verhoor voort te gaan sodat daar uiteindelik geregtigheid vir Madihlaba kan geskied.

Die saak is uitgestel tot 29 Januarie 2024 vir blootlegging van die dossier aan die verdediging.

Soortgelyke plasings