|

Man swaar gestraf nadat hy weke oue baba met droë ys brand

Regter Papi Mosopa het gister vir Gerhard Viljoen in die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria die minimum vonnis van 10 jaar gevangenisstraf opgelê waarvan twee jaar opgeskort is vir vyf jaar. Dit volg nadat hy skuldig bevind is aan aanranding met die doel om ernstig te beseer van sy eksmeisie se baba, wat in Oktober 2020 toe die misdaad gepleeg is slegs ses weke oud was. Die biologiese ma van die slagoffer is nog nie aangekla nie, omdat sy tans steeds minderjarig is. AfriForum se privaatvervolgingseenheid het ingevolge ’n waaksaamheidsopdrag in hierdie saak opgetree.

Dit volg nadat AfriForum se privaatvervolgingseenheid in Julie 2021  tydens ’n mediakonferensie die eenheid se betrokkenheid aankondig het by hierdie saak, asook drie ander sake van kindermishandeling. Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het aanvanklik, ten spyte van oorweldigende bewyse, die klagtes teen die beskuldigde in die Brits-landdroshof teruggetrek. Nadat die privaatvervolgingseenheid vertoë aan die Direkteur van Openbare Vervolging (DOV) in Gauteng gerig het en aangedui het dat hulle Viljoen privaat wil vervolg, het die DOV egter besluit om wel vervolging in te stel en die saak oor te plaas na die hooggeregshof.

Viljoen het skuldig gepleit en ’n pleitooreenkoms met die Staat gesluit. Die J88 van die baba het ’n lys van 12 beserings bevat. Viljoen het erken dat hy die baba gebrand deur hom teen die droëys in sy vrieskas te druk. Hy het ook verskeie beserings aan die baba toegedien deur hom herhaaldelik met die oop hand en ’n roerspaan oor sy hele lyf te slaan. Hy het ook erken dat hy op ’n ander geleentheid die baba met ’n vuis geslaan het toe hy die baba se ma wou slaan terwyl sy oor haar baba gekniel het. Hy het erken dat hy moes kon voorsien dat hy die baba sou kon raak slaan. Die NVG is tans steeds besig om klagtes teen die biologiese ma van die baba te oorweeg, omdat sy na bewering aan ’n kleuterskooljuffrou erken het dat sy haar baba in ’n vrieskas gesit het as hy te veel gehuil het.

“Die privaatvervolgingseenheid verwelkom die vonnis teen Viljoen, aangesien sake van geweld teen vrouens en kinders geprioritiseer behoort te word. Ons wil ook die aanklaer gelukwens met die suksesvolle vervolging van Viljoen, maar bly bekommerd oor die toestand van vervolgings in die Brits-landdroshof waar hierdie saak aanvanklik van die rol geskrap is,” sê Natasha Venter, adviseur by AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

Soortgelyke plasings