| |

Laer Suidkus-gemeenskap ontvang noodsaaklike opleiding in vuurwapenhantering

Kennis is mag en kennis van korrekte vuurwapenhantering kan in ’n noodsituasie die verskil tussen lewe en dood beteken. Juis daarom het AfriForum se buurtwagte aan die Laer Suidkus verlede week noodsaaklike praktiese opleiding in vuurwapenhantering aangebied aan gemeenskapslede hier. Dié opleiding vorm deel van AfriForum-buurtwagte se opleidingsprogram wat ten doel het om gemeenskapslede te bemagtig en hul bevoegdheid ten opsigte van optrede tydens ’n misdaadsituasie deurgaans te verbeter.

“Ons is dankbaar dat lede hieraan deelgeneem het om hulself te bemagtig. Ons het al verskeie lesings aangebied oor onder meer die korrekte hantering van en optrede by misdaadtonele, radiosprosedures en wetlike aspekte rakende veiligheid, en beplan om binnekort ook verdere veiligheidsopleiding aan te bied,” verduidelik Cliff Holme, AfriForum se buurtwagleier van die Laer Suidkus.

AfriForum se Laer Suidkus-tak het onlangs sy buurtwag uitgebrei na die Elysium-gemeenskap en beplan om vanjaar selfs verder uit te brei.

“Weens die kommerwekkende hoë misdaadvlakke in KwaZulu-Natal, vorm veiligheid en veiligheidsopleiding ’n belangrike fokus van ons tak,” sê Theuns Boshoff, takvoorsitter van die Laer Suidkus-tak. Hy nooi daarom lede van die gemeenskap uit om deel te word van AfriForum se veiligheidstrukture in dié gebied en derhalwe ook by veiligheidsopleiding wat hier aangebied word, te baat.

Volgens Eugene van Aswegen, AfriForum se provinsiale koördineerder vir KwaZulu-Natal, bied AfriForum vlak 1- tot 3-veiligheidskursusse aan wat strek vanaf basiese opleiding vir patrolleerders tot meer gevorderde opleiding vir protospanlede. “Dit is noodsaaklik dat gemeenskapslede hulself bemagtig in ’n wêreld waar misdaad hand uitruk,” sê Van Aswegen.

Die jongste misdaadstatistiek vir die tydperk vanaf Julie tot September 2023, wat in November verlede jaar deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) vrygestel is, toon dat ’n 1 603 moorde in dié tydperk in KwaZulu-Natal gepleeg is. Dit kom neer op nagenoeg 18 moorde per dag. “Die provinsie het ’n bloedige misdaadreputasie en die gemeenskap het daarom ’n dringende verantwoordelikheid om op ’n verantwoordelike wyse en binne die raamwerk van die wet om te sien na hul eie veiligheid,” sluit Van Aswegen af.

Word vandag nog deel van AfriForum se gemeenskapsveiligheidstrukture aan die Laer Suidkus. Kontak Holme vir meer inligting by 082 896 3029.

Van die gemeenskapslede wat die opleiding voltooi het, is van links na regs Ben Blignaut, Cliff Holme, Deon Smal, Eugene van Aswegen (instrukteur), Alan Aiken, Tracy Louw en Gerrit Louw.

Soortgelyke plasings