|

AfriForum begin met regstappe oor powere vullisverwydering in Bloemfontein

Die burgerregtewaghond AfriForum se regspan het vandag ’n finale aanmaningsbrief aangaande vulllisverwydering aan die Mangaung Metropolitaanse Munisipaliteit gestuur. Dit volg in reaksie op die munisipaliteit se volgehoue swak bestuur van dié diens.

AfriForum het lede hier verlede jaar aangemoedig om ’n aansoek vir die kansellasie van die metro se vullisverwyderingsdiens in te dien sodat hulle eerder voortaan van privaat diensverskaffers gebruik kan maak. Ongeveer 700 mense het hierdie aansoek ingedien, maar die munisipaliteit het die aansoeke van die hand gewys.

Dié optrede het AfriForum nou genoodsaak om verdere regstappe te doen. Die metro het nou tot 5 Februarie kans om geldige redes vir die weiering van lede se kansellasie-aansoeke te voorsien, anders sal AfriForum hom tot die hof wend.

“Ons het geen ander keuse as om regstappe teen die Mangaung Metro te doen nie. Inwoners het die reg om aansoek te doen om hul munisipale vullisverwydering te staak en dié diens van hul munisipale rekening te laat verwyder. Baie inwoners is nou moeg daarvoor om dubbele kostes te dra net om hul vullis stiptelik te laat verwyder en toe te sien dat hul woonbuurt nie in ’n vullisterrein ontaard nie,” sê Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder vir Bloemfontein.

Volgens Groenewald word vullis net sporadies in Bloemfontein verwyder en dit, meen hy, hou nie net ’n omgewingsrisiko in nie, maar skep ook geleenthede vir sogenaamde sakgrawers en diere om die vullissakke oop te skeur en dus rommel verder te versprei. Dit hou ook ten opsigte van misdadigheid ’n potensiële risiko in vir inwoners.

“Ons glo dat dié afvalbestuurskrisis dringende aandag vereis en dat die metro se versuim om op te tree onaanvaarbaar is. In die geval van ’n onbevredigende antwoord teen 5 Februarie, is ons bereid om regstappe ingevolge die Wet op die Bevordering van Administratiewe Geregtigheid te doen. Inwoners en belastingbetalers van die Mangaung Metro behoort te kan kies van watter dienste hulle gebruik wil maak en verdien ’n vinnige en doeltreffende oplossing vir die uitdagings wat hulle tans ondervind,” benadruk Petrus Coetzee, AfriForum se raadgewer vir plaaslikeregeringsake.

AfriForum het sedert Augustus 2023 die gemeenskap bygestaan om hul aansoeke om kansellasie in te dien. Ten spyte van die verskeie skrywes wat AfriForum reeds oor dié aangeleentheid aan die Mangaung Metro oorhandig het, is daar tot dusver geen terugvoer ontvang nie.

“Ons moedig die Bloemfontein-gemeenskap aan om hul aansoeke om kansellasie in te dien en, met die oog op ’n skoner én veiliger Bloemfontein, aan te sluit by AfriForum se vullisverwyderingsinisiatief,” sluit Groenewald af.

Volg dié skakel en dien vandag nog jou aansoek in en sluit aan by AfriForum se vullisverwyderingsinisiatief: https://afriforum.co.za/wat-doen-ons-2/vullisverwydering-2/vullisverwydering/.

Soortgelyke plasings