|

Munisipaliteit het glo miljoene in die bank, maar dienslewering ontbreek steeds in Standerton

Hoewel die Lekwa Plaaslike Munisipaliteit teen die einde van die 2021/2022-finansiële jaar skynbaar meer as R490 miljoen in sy bankrekening gehad het, blyk dit dat dienslewering sedertdien steeds in Standerton ontbreek. Dit wil boonop voorkom asof dié munisipaliteit nie behoorlik rekenskap kan gee van sy finansies nie, aangesien ’n gebrek aan stawende dokumente veroorsaak het dat behoorlike oudits vir die soveelste jaar nie gedoen kon word nie. Dié is sommige van die bekommernisse wat AfriForum se Standerton-tak in sy skriftelike kommentare oor die munisipaliteit se geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) geopper het.

’n Deelnameproses word jaarliks in alle munisipaliteite landwyd gevolg waartydens belanghebbende organisasies en die publiek aanbevelings kan doen vir dit waarvoor munisipaliteite in die daaropvolgende jaar moet begroot. AfriForum-takke landwyd neem ook aan die proses deel om hierdeur lede se stem te laat hoor en druk op munisipaliteite te plaas om dienslewering op spesifieke terreine op te skerp.

Die Standerton-tak se voorstelle spruit uit die ouditeur-generaal se verslag oor die vorige begroting. Luidens dié verslag het die munisipaliteit reuse-onderbesteding in die 2021/2022-begroting aangeteken, terwyl daar steeds aan die einde van die vorige finansiële jaar sowat R498 miljoen beskikbaar was. AfriForum wys daarop dat daar egter, ten spyte van die beskikbaarheid van fondse, geensins pogings aangewend is om die munisipaliteit se enorme skuld aan Eskom te vereffen of om dienslewering te verbeter nie. Die inwoners van Standerton trek swaar onder die bykomende beurtkrag wat ingestel word weens uitstaande skuld wat nie vereffen word nie.

“Dit is duidelik dat daar geen ordentlike boekhouvermoë is nie, want die munisipaliteit se geldsake klop nie, en indien al daardie geld beskikbaar was sou die dorp teen dié tyd in ’n baie beter toestand gewees het,” sê Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld.

Die AfriForum-tak het in sy kommentaar aan die munisipaliteit daarop gewys dat talle paaie in Standerton bykans onrybaar is. Weens al die slaggate is die paaie onveilig vir motoriste en talle motors het reeds ernstige skade hier opgedoen. Die tak het voorts ook ’n lys van vervalle strate ingehandig waaraan die munisipaliteit dringend moet aandag skenk.

Verder is daar gemeld dat die munisipaliteit se vullisterrein vir jare lank in ’n haglike toestand is en swak bedryf word. Die gebrek aan behoorlike toegangsbeheer en bestuur het daartoe gelei dat vullis dikwels aan die brand raak en daar ’n erge stank oor die terrein hang. Dit bedreig nie net die omgewing nie, maar ook die inwoners se gesondheid. Die huidige situasie by die Standerton-vullisterrein is onaanvaarbaar. AfriForum wil met die munisipaliteit in gesprek tree oor hoe die huidige situasie ontstaan ​​het en watter maatreëls, indien enige, die munisipaliteit beoog om te implementeer om te verseker dat hierdie situasie so gou moontlik reggestel word. Hoewel daar die afgelope twee maande pogings aangewend is om die situasie te beredder, moet dit reg bestuur word om uiteindelik ’n volhoubare oplossing vir die probleem te bied.

Inwoners wat deel van AfriForum se Standerton-tak wil word, kan www.wordlid.co.za besoek vir meer inligting.

Soortgelyke plasings