|

AfriForum help vermeende mineraalsmokkelaars in Hartswater vastrek

AfriForum se Vaalharts-buurtwag het op 25 Junie ’n deurslaggewende rol gespeel in die arrestasie van drie vermeende mineraalsmokkelaars in Hartswater. Hierdie sukses was ’n gekoördineerde poging tussen AfriForum, gemeenskapsorganisasies en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD).

Die gemeenskapsveiligheidseenheid se inligtingsnetwerk het omstreeks 11:00 ’n verdagte wit Mercedes-Benz-sedan met drie insittendes in Jan Kempdorp opgemerk. Die inligtingsnetwerk het egter vinnig die nodige strukture ontbied om die voertuig met die verdagtes voor te keer, nadat aanvanklike pogings onsuksesvol was.

AfriForum se Vaalharts-buurtwag het die Mercedes sowat ’n uur later in Hartswater opgespoor en die voertuig se bewegings noukeurig gemonitor. Die SAPD het die voertuig skuins ná 13:00 afgetrek en die drie verdagtes in hegtenis geneem. Die verdagtes was in besit van ongeveer R185 000 kontant.

“Hierdie voorval beklemtoon die belangrikheid van gemeenskapsbetrokkenheid en samewerking tussen verskeie entiteite om die veiligheid en sekuriteit van ’n gebied te verseker. Die suksesvolle arrestasie van hierdie verdagtes behoort as ’n duidelike boodskap te dien dat kriminele aktiwiteite nie in die gemeenskap geduld sal word nie,” sê Lize-Mari van der Linden, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Karoo.

Soortgelyke plasings