|

Koster al 13 dae sonder water – munisipaliteit moet nou helpende hand aanvaar, sê AfriForum

Die Koster-gemeenskap is sedert 7 Augustus pal sonder water ná ’n waterpomp by die Witrand-pompstasie die gees gegee het. AfriForum eis nou dat die Kgetlengrivier Plaaslike Munisipaliteit saam met hom begin werk om te voorkom dat die Koster-gemeenskap weer vir ’n onbepaalde tydperk sonder water sit.

Die munisipaliteit het ’n skrywe uitgereik dat die waterpomp eers die 21ste Augustus vervang gaan word en dat die dorp weer vanaf 23 Augustus water sal hê. Volgens AfriForum is dit egter onaanvaarbaar dat die dorp reeds vir twee weke sonder water moes wees voordat die munisipaliteit die nodige herstelwerk kon reël.

“Hierdie is nie die eerste keer wat die Koster-gemeenskap sonder ’n druppel water in hul krane gelaat is weens die munisipaliteit se duidelike onvermoë om hierdie lewensbelangrike diens te lewer nie. Die Kgetlengrivier-munisipaliteit is eenvoudig nie in staat om die waterinfrastruktuur doeltreffend te bestuur nie. Dit is tyd om die bestuur van waterdienste aan die privaat sektor oor te dra of AfriForum se aanbod van samewerking te aanvaar,” sê Armand Viljoen, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.

Volgens Viljoen is hierdie ’n bewys van swak bestuur aangesien daar nie eens ’n rugsteunwaterpomp beskikbaar was om te gebruik tot die gebroke een vervang kon word nie.

“Water is ’n basiese mensereg en die langdurige afwesigheid van hierdie kritieke diens is absoluut onaanvaarbaar. Die munisipaliteit se nalatigheid om die gebroke pomp tydig te vervang, wat die inwoners al vir 13 dae sonder water laat, weerspieël ’n ernstige tekortkoming in die munisipaliteit se verantwoordelikheid,” sê Rika van Staden, voorsitter van die AfriForum Koster-tak.

Sluit by AfriForum se Koster-tak aan om ’n daadwerklike verskil te maak. Skakel Rika van Staden by 060 369 3215 of besoek www.wordlid.co.za.

Soortgelyke plasings