|

Malmesbury-tak spog met bobaas-buurtwag

Hoewel die AfriForum-buurtwag in Malmesbury slegs ’n jaar gelede op die been gebring is, het hy bewys waarom hy reeds die beste van die bestes is. Dié buurtwag is tydens AfriForum se kongres by die ATKV Klein Kariba buite Bela-Bela in Limpopo aangewys as die beste buurtwag in die Suidstreek. Hierdie buurtwag is vereer met die Suidstreek Buurtwag van die Jaar-toekenning vir al sy harde werk in die gemeenskap.

Die Malmesbury-buurtwag neem sy rol as beskermer ernstig op deur sedert sy stigting in Oktober verlede jaar weekliks patrollies in die gebied te doen en hegte bande met die plaaslike polisie te smee. Die buurtwag het tydens vanjaar se verkiesing oor stemlokale gehelp waak en selfs tot in die vroeë oggendure patrollies gery om te verseker dat elke inwoner sonder voorval hul stem kon laat hoor.

Al hoe meer lede van dié buurtwag ontvang AfriForum se protospanopleiding en leer vaardighede aan wat vir die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) van onskatbare waarde is. Hierdie buurtwaglede het die SAPD al onder meer tydens optogte in die dorp ondersteun en ná rooftogte op die dorp. Die Malmesbury-buurtwag het ook al vermeende inbrekers vasgetrek.

“Hierdie buurtwag se toewyding tot die gemeenskap is so omvangryk dat daar niks in sy pad sal staan om te verseker dat Malmesbury vry, veilig en voorspoedig is nie,” sê Johan Crous, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Weskus. “Ons is vol vertroue dat die Malmesbury-buurtwag sal voortgaan om die gemeenskap se belange, welstand en veiligheid eerste te stel.”

Soortgelyke plasings