|

AfriForum se Lichtenburg-tak pak slaggate in verskeie strate

Lichtenburg het meer as 65 slaggate minder te danke aan die AfriForum-tak in dié dorp. Dié tak het 24 ton teer en twee dromme bitumen gebruik om hierdie slaggate te herstel. Hierdie inisiatief het ten doel om padveiligheid in Lichtenburg te verbeter.

Hierdie tak het van 2 Oktober tot 5 Oktober sowat 190 m2 se padoppervlak met 14 ton teer herstel in Republiekstraat. Die tak het ook van 26 September tot 28 September 10 ton teer gebruik om slaggate in Carolstraat, naby Hoërskool Lichtenburg te herstel.

“Ons wil graag ons opregte dank oordra aan elke persoon en onderneming wat gulhartig bydra tot hierdie tak se aksies – sonder julle kan ons nie doen wat ons doen nie. Ons wil graag ook in besonder vir NWK bedank wat hul snymasjien en roller beskikbaar gestel het en ook teer en bitumen geskenk het,” sê Armand Viljoen, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.

“Die herstel van hierdie slaggate beteken dat ons minder skade aan ons voertuie gaan hê. Dit help ook met verkeersvloei en om ’n algehele netjieser voorkoms in die dorp te bewerkstellig. Hierdie projek wys dat ons, as gemeenskap, die krag het om ons omgewing te verbeter en ’n positiewe verskil te maak in die lewens van ons mense. Laat ons voortgaan om saam te werk en ons gemeenskap te versterk,” sê Pine Pienaar, projekleier.

Afriforum se Lichtenburg-tak daag ondernemings en individue uit om deel te word van hierdie belangrike gemeenskapsinisiatief deur teer te skenk of donasies vir teer te maak. Besoek www.wordlid.co.za om deel te word van hierdie tak en ’n daadwerklike verskil in jou gemeenskap te maak.

Die tak wil ook die volgende ondernemings bedank vir hulle bydraes: Reyntjie Laubsher van UD Trucks & Tacet, die matriekafskeidkomitee van Hoërskool Lichtenburg, Gawie en Karolien Coetzee van GPC Brahmane, Robert en Chantelle van der Merwe, Bennie en Rhode Snyman van G-3 & Snyman Makelaars vir die teer skenkings en Gideon du Preez van Lichcrete vir sy trok en TLB.

Kontak vir Pienaar by 082 371 5312 om teer te skenk of op ’n ander manier betrokke te raak by dié inisiatief.

Soortgelyke plasings