| |

Rou riool hou gevaar in vir die bedreigde Knysna-seeperdjie

Die bedreigde Knysna-seeperdjie staar verdere bedreiging in die gesig indien die Knysna Plaaslike Munisipaliteit nie dringend optree en ’n einde maak aan die storting van rou riool in die Knysna-strandmeer nie.

Sedert November verlede jaar is daar sporadiese gevalle gerapporteer van mangate in Knysna wat oorloop. Die meeste van hierdie rou riool beland uiteindelik in die Knysna-strandmeer, wat die natuurlike habitat van die Knysna-seeperdjie is. Hierdie seeperdjie is op die Internasionale Unie vir die Bewaring van die Natuur (IUBN) se rooilys van bedreigde spesies. Dit is die enigste soort seeperdjie ter wêreld wat in riviermondings voorkom en hul syfers het volgens die IUBN in die afgelope dekade reeds met nagenoeg 50% gedaal weens onder meer besoedeling.

Benewens hierdie seeperdjie, hou die rioolstorting in die Knysna-strandmeer ook ’n bedreiging in vir die Knysna-blaarvouendepadda, wat ook op die IUBN se rooilys van bedreigde spesies is. Volgens die IUBN is dié paddatjie se bevolking aan die afneem ook weens onder meer besoedeling.

Die AfriForum-tak in Knysna het gevolglik op 29 Februarie ’n skrywe aan die Knysna-munisipaliteit gerig waarin dié organisasie eis dat die munisipaliteit dringende aksie moet neem teen die rou riool wat in die strate vloei.

In die brief eis AfriForum ook onmiddellike ingryping van die munisipaliteit by die vullisverwyderingsprobleme wat tans op dié dorp woed. Knysna word sedert Februarie deur ’n ernstige tekort aan betroubare vullisverwyderingsdienste geteister en vullis wat nie verwyder word nie, hoop toenemend op. Die vullisterrein is ook in totale wanorde met geen personeel op die terrein of rekordhouding nie.

Intussen verswak dienslewering hier ook op ander gebiede en skokkende gevalle van vuil, stinkende kraanwater word nou meer algemeen deur inwoners van dié dorp aangemeld.

Benewens AfriForum se versoeke rakende die onmiddellike oplossing van die riool- en vulliskrisis, eis die organisasie ook dat die munisipaliteit ’n aksieplan moet verskaf om hierdie probleme in die toekoms hok te slaan. AfriForum versoek ook ’n vergadering met die munisipaliteit om te bespreek hoe die organisasie die munisipaliteit met toekomstige werk en projekte kan help.

“Die betrokke munisipaliteit is besig om te faal in sy pligte om basiese dienste in die gebied te lewer. Dit is kommerwekkend om te sien hoe ’n eens goed geoliede munisipaliteit in so ’n kort tyd in duie kan stort. AfriForum sal egter die verval bestry en toesien dat positiewe verandering geskied,” sê Marthinus Erasmus, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap.

Indien AfriForum teen 8 Maart nog geen terugvoer van die munisipaliteit ontvang het nie, sal die organisasie met sy regspan vergader om verdere stappe te oorweeg.

Sluit aan by AfriForum se Knysna-tak om jou stem te laat hoor. Stuur ’n e-pos na marthinus.erasmus@afriforum.co.za of skakel hom by 081 216 9602.

Soortgelyke plasings