AfriForum skop veldtog af om Tshwane-metro uit die EFF se hande te hou

AfriForum het vandag ’n omvattende veldtog afgeskop om die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit uit die hande van ’n EFF-ANC-koalisie te hou. Dit volg nadat ActionSA aangekondig het dat hy dit ernstig oorweeg om hom by die ANC en die EFF te skaar om die burgemeester, Cilliers Brink, uit te stem en sodoende die DA-geleide veelpartykoalisie in die metro ten gronde te laat gaan. Die publiek kan deur die webblad www.redpretoria.co.za só ’n toekoms in die wiele ry. Met die ondertekening van die petisie sal ’n outomatiese skrywe aan leiers van ActionSA, DA, IVP, ACDP en VF+ gestuur word om die geskille in die koalisie so gou moontlik en in die belang van die metro se inwoners by te lê.  

Die ANC het verlede week ’n mosie van wantroue in Brink ter tafel gelê, wat Vrydag tot stemming gebring sou word. Die DA het egter ’n dringende aansoek in die Pretoriase Hooggeregshof gebring om die mosie onregmatig te laat verklaar. Hierdie regsaksie het die ANC sy mosie laat terugtrek, maar met die belofte dat hy in 14 dae terug sou wees met ’n nuwe een.

Volgens Ernst van Zyl, Hoof van Openbare Betrekking by AfriForum, sal die Tshwane-metro weer in wanorde verval as die huidige regerende koalisie verbrokkel. Daarom is dringende optrede nodig voordat die huidige koalisie se lot in minder as twee weke besluit word.

“Die metro se huidige koalisie het veral in Pretoria reeds vordering gemaak om  gemeenskappe meer beheer te gee om hul buurte te verbeter en te beveilig. Dít is egter nou in gedrang. Sou daar weer politieke onstabiliteit in die metro heers, sal dit ongetwyfeld bydra tot die swak prestasie van dié munisipaliteit,” sê Van Zyl. “Dit is boonop verregaande dat ’n party soos die EFF, wat die oppergesag van die reg ondermyn, onmin saai en selfs tydens ’n onlangse raadsvergadering gesê het hulle wil ’n ‘Boer m**r’, nou moontlik deel van ’n nuwe munisipale regering kan word,” voeg hy by.

“Dis tyd dat die inwoners van die Tshwane-metro hul stemme laat hoor deur dit hard en duidelik te maak dat hulle alles in die stryd sal werp om te verhoed dat ’n EFF-ANC-koalisie mag oor die metro bekom. Enige party wat bereid is om saam met die EFF te werk moet ook weet dat hulle die kant van haat, verval en wanorde kies. Indien die Tshwane-metro aan die EFF-ANC-koalisie oorhandig word sal die inwoners van die Tshwane-metro nie vergeet wie dit oorhandig het nie,” sluit Van Zyl af.

Besoek www.redpretoria.co.za en voeg jou naam by die petisie om te verhoed dat die EFF en sy vennote by die administrasie van die Tshwane-metro betrokke raak.

Soortgelyke plasings