|

Affies en AfriForum gaan groen in boomplantmaand

Leerlinge by die Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria (AHMP) is nie bang om hul hande vuil te maak nie.

Gr.8-leerlinge aan dié skool het vandag elkeen ingespring en as deel van AfriForum se nasionale boomplantmaand ʼn Vaderlandswilg (Combretum erythrophyllum) voor hul koshuis geplant.

“Dit is vir ons ʼn groot voorreg om waar ook al ons kan, hoe ons ook al kan, by te dra om ons gemeenskap en omgewing te bewaar,” meen Leah Warmenhoven, hoofmeisie van die skool.

Sy vertel dat die skool moeite gedoen het om die meisies in te lig en bewus te maak oor die belangrikheid van boomplantmaand. “Ons het in aanloop tot vandag baie navorsing gedoen oor die bome wat geplant gaan word en omdat ons ook nou bewus is van die verskil wat een boom in ʼn omgewing kan maak, wil ons ander aanmoedig om dieselfde te doen.”

Die Vaderlandswilg is ‘n bladwisselende boom wat tot 18 meter hoog kan word. Dit het ʼn kenmerkende ligte stam en sy vrugte is klein en viervlerkig en verdroog tot ‘n ligte heuningbruin kleur. Dit is ʼn uiters veelsydige boom wat baie vinnig groei en swaar ryp kan weerstaan. Dit word ook aanbeveel as ʼn skaduboom.

Die AfriForum-tak in Christiana het ook as deel van boomplantmaand vier vrugtebome by skole in die dorp geplant, terwyl die Heilbron-tak 13 bome aan die Hoërskool Heilbron as deel van dié inisiatief geskenk het.

Volgens Chris Boshoff, AfriForum se koördineerder vir omgewingsake, is boomplantmaand deel van ’n poging om die toekoms vir die volgende generasie te verseker. “Mense regoor Suid-Afrika vier boomplantdag op 1 September, maar AfriForum wil egter die hele Septembermaand aan die plant van bome wy.”

Sowat 130 AfriForum-takke beplan om deur die loop van die maand meer as duisend bome landwyd te plant.

Hoewel die burgerregte-organisasie daarop gaan fokus om Blinkblaar Wag-’n-Bietjie- en Ebbebome te plant, word gemeenskappe aangemoedig om enige boom wat inheems tot hul omgewing is, te plant. ’n Inligtingsdokument oor boomplantmaand is beskikbaar by www.afriforum.co.za

 

Soortgelyke plasings