|

AfriForum behaal oorwinning in hof vir gemeenskap se waterregte

AfriForum behaal oorwinning in hof vir gemeenskap se waterregte

AfriForum het op 23 September 2021 ’n oorwinning in die Hooggeregshof in Mafikeng behaal teen die Tswaing Plaaslike Munisipaliteit nadat inwoners van Delareyville, Sannieshof en Agisanang al vir jare gebuk gaan onder swak watervoorsiening deur dié munisipaliteit. AfriForum het dié saak met koste gewen.

AfriForum het onder meer in die hofstukke geëis dat:

  • Die Ngata Modiri Molema Distriksmunisipaliteit moet binne ses maande nadat die hofbevel beteken is die funksies en verantwoordelikhede wat watervoorsiening en -verspreiding betref by die Tswaing Plaaslike Munisipaliteit oorneem.
  • Die Ngata Modiri Molema Distriksmunisipaliteit moet binne ses maande waternetwerk- en -infrastruktuurplanne aan die organisasie voorsien.
  • Die Ngata Modiri Molema Distriksmunisipaliteit en Tswaing Plaaslike Munisipaliteit moet hul verpligtinge nakom soos die wet vereis en volhoubare watervoorsiening aan die inwoners van Delareyville, Sannieshof en Agisanang verskaf.
  • Indien water nie aan die inwoners verskaf kan word nie, moet die distriks- en plaaslike munisipaliteite sorg dat inwoners op ’n ander wyse toegang het tot skoon water en dit dadelik aan AfriForum kommunikeer.
  • Die Ngata Modiri Molema Distriksmunisipaliteit moet twee weekliks aan AfriForum terugvoer gee oor die oorneem van die waterstelsels. 
  • Die distriksmunisipaliteit moet nog personeel aanstel om te verseker dat die waterpompe nie deur vandale beskadig word nie.
  • Die distriksmunisipaliteit moet ook die regskoste wat AfriForum aangegaan het met dié dringende hofaansoek, betaal.

Die hof het met hierdie uitspraak bevind dat die distriks- en plaaslike munisipaliteit nie hul verpligtinge kragtens wetgewing nagekom het nie.

Volgens Corné Cronje, AfriForum se bestuurder vir Gemeenskapstrukture, is dit ’n groot oorwinning vir AfriForum en die gemeenskap. “Ons is baie verlig oor die uitkoms van die hofsaak en is bly dat ons die gemeenskap kan help. Ons kan nie toelaat dat swak munisipale dienslewering mense se basiese regte skend nie. Almal het die reg tot skoon, lopende water en daarom sal ons aanhou om teen munisipaliteite op te tree wat nie hierdie dienste op ’n volhoubare manier lewer nie.”

Cronje sê verder dat AfriForum sal aanhou om die watersituasie in die drie dorpe te moniteer en sal verdere stappe oorweeg indien die distriksmunisipaliteit nie die hofbevel nakom nie. “Ons sal die watersituasie fyn dophou. Ons hoop dat dié munisipaliteite die hofbevel sal nakom en water aan die gemeenskap sal voorsien. Indien dit nie die geval is nie, sal ons verdere stappe doen om te verseker dat die inwoners water het,” sluit Cronje af.

Sluit vandag nog by AfriForum aan en help ons om vir jou regte te veg: SMS “water” na 45344 (R1)

Soortgelyke plasings