|

AfriForum stuit vergroting van Rustenburg Plaaslike Munisipaliteit

AfriForum verwelkom die besluit van die Munisipale Afbakeningsraad om nie die Rustenburg Plaaslike Munisipaliteit en die Kgetlengrivier Plaaslike Munisipaliteit saam te smelt nie. Dit volg ná AfriForum en sy spesialiste reeds op 28 April vanjaar kommentaar ingedien het teen die beplande verandering. Indien die verandering suksesvol sou wees, het dit beteken dat Koster, Derby, Swartruggens en omliggende areas deel sou vorm van die Rustenburg Plaaslike Munisipaliteit.

“Ons is bly dat die Munisipale Afbakeningsraad gehoor gegee het aan ons kommentaar om nie die twee munisipaliteite saam te smelt nie. Basiese dienslewering soos water en sanitasie is reeds uiters swak in albei munisipaliteite en om addisionele dorpe onder die bestuur van die Rustenburg Plaaslike Munisipaliteit in te trek sou die situasie net vererger,” sê Petrus Coetzee, AfriForum se raadgewer vir Plaaslikeregeringsake.

“Indien die samesmelting suksesvol was, sou befondsing aan dié munisipaliteit ook moontlik toeneem en vergrote geleenthede skep vir korrupte amptenare om geld onregmatig te bekom. Die oplossing vir Suid-Afrika se wanbestuur van munisipaliteite en die totale ineenstorting van dienslewering lê in ’n meer federale benadering, en nie by ’n sterker sentralistiese stelsel soos wat hierdie verandering sou meebring nie,” voeg Coetzee by.

“Waar daar reeds ’n gebrek is aan effektiewe instandhouding is dit bloot onverstandig om verdere druk te plaas op ’n reeds wanfunksionerende munisipaliteit,” sê Armand Viljoen, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.

AfriForum moedig gemeenskappe aan om betrokke te raak by www.afriforum.co.za

Soortgelyke plasings