|

AfriForum bring dringende aansoek oor verhoging van munisipale elektrisiteitstariewe

NERSA verontagsaam waarskynlik hofbevel én wetgewing – AfriForum

Die burgerregteorganisasie AfriForum het ’n dringende aansoek in die Hooggeregshof in Pretoria gebring teen die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (NERSA). Luidens dié aansoek wil AfriForum verhoed dat die reguleerder munisipaliteite se aansoeke om elektrisiteitstariefverhogings, wat op 1 Julie vanjaar geïmplementeer moet word, sonder die vereiste kostestudies oorweeg. Kragtens ’n Hooggeregshofbevel van Oktober 2022 word ’n kostestudie as deel van munisipaliteite se aansoeke om tariefverhogings vereis. Dit word ook deur die Wet op Elektrisiteitsregulering 4 van 2006 voorgeskryf. 

Volgens Morné Mostert, bestuurder van Plaaslikeregeringsake by AfriForum, is die gebruik van ’n kostestudie vir tariefverhogings van kritieke belang omdat dit ’n duidelike uiteensetting gee van wat munisipaliteite se tariewe moet wees om die diens behoorlik te kan lewer en netwerke in stand te hou. “Munisipaliteite wat nie kostestudies het nie, se aansoeke word bloot geskoei op ’n beraming van wat dit kos om die diens te lewer. Aansoeke om tariefverhogings moet egter gedoen word op akkurate berekende syfers wat sal verseker dat billike tariefverhogings aan verbruikers deurgegee word,” verduidelik Mostert.

NERSA het in die verlede tariefriglyne, gebaseer op vorige jare se kragtariewe, sowel as prysbande vir die bepaling van munisipaliteite se tariefverhogings gebruik. Dit is egter deur die Hooggeregshofbevel van Oktober 2022 verbied.

Ten spyte van dié bevel wat die gebruik van kostestudies verplig, blyk dit asof NERSA die bevel verontagsaam, verduidelik Mostert. “Die reguleerder het onlangs kommunikasie aan munisipaliteite gestuur waarin die gebruik van ’n inkomstevereiste-sjabloon, in plaas van die voorgeskrewe kostestudie, vir tariefverhogingsaansoeke beskikbaar gestel is,” sê Mostert.

AfriForum het NERSA in April vanjaar versoek om te bevestig of die reguleerder wel munisipaliteite steeds verplig om kostestudies in te dien as deel van die tariefverhogingsaansoeke. Geen terugvoer is hieroor van NERSA ontvang nie.

Deidré Steffens, adviseur oor Plaaslikeregeringsake by AfriForum, beklemtoon dat die burgerregteorganisasie se aansoek in die belang van verbruikers gedoen word. “Regverdigheid en deursigtigheid in die goedkeuring van munisipale elektrisiteitstariewe is noodsaaklik. Dit kom voor asof NERSA se huidige beleid en proses nie ooreenkomstig die wet gedoen word nie en derhalwe tot nadeel van verbruikers toegepas word – en dít is wat ons nou dringend moet keer.”

“Dit is hoogtyd dat NERSA en munisipaliteite hul huis in orde kry. NERSA is veronderstel om die elektrisiteitsektor te reguleer, maar tans lyk dit asof hul onvermoë om wetgewing na te kom ’n uiters negatiewe impak op verbruikers het,” sluit Mostert af.

Soortgelyke plasings