AfriForum-buurtwag blus brande in Wes-Moot


Die burgerregte-organisasie AfriForum se Wes-Moot-buurtwag het onlangs gehelp om verskeie veldbrande te blus. ’n Huis het egter tydens een van dié brande afgebrand.
Die eerste veldbrand het op 14 September 2017 om 16:00 in Van der Hoffweg ontstaan, en die buurtwag het tot 23:00 daardie aand ook verskeie ander veldbrande in die omliggende gebiede geblus.

“Die gemeenskap is baie belangrik vir ons en dit is ’n edele taak om ander by te staan,” sê Jaco Loots, ondervoorsitter van AfriForum se Wes-Moot-tak.

’n Gesin in die gebied wat al twee weke lank geen watertoevoer gehad het nie, het ook die buurtwag om hulp genader, waarna die buurtwag 3 000 liter water vir hulle geneem het.

“Die plaaslike buurtwagte is van ontsaglike waarde vir ons gemeenskappe, aangesien hulle altyd bereid is om te help,” sê Lambert de Klerk, AfriForum se distrikskoördineerder vir Gauteng.

Gemeenskapslede kan by AfriForum betrokke raak deur “Buurtwag” na 45341 te SMS (R1), óf deur ’n e-pos na lambert@afriforum.co.za te stuur.

Soortgelyke plasings