AfriForum-buurtwag in Ellisras help om tien onwettige immigrante vas te trek


Die AfriForum-buurtwag in Ellisras het op 13 November 2017 in samewerking met Ferroland se teenstropery-eenheid; Exxaro-myn se sekuriteit; die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD); en lede van die gemeenskap tien immigrante vasgetrek wat onwettig die land binnegesmokkel is. ’n Soektog is na die verdagtes geloods nadat lede van die gemeenskap ’n verdagte voertuig gerapporteer het.
Ferroland se teenstropery-eenheid het dadelik gereageer waarna die verdagtes gevlug het, maar met goeie samewerking tussen die verskillende veiligheidsrolspelers is die bakkie en slaapwa met die onwettige immigrante vasgetrek en is die persone wat dié onwettige immigrante die land binnegesmokkel het ook gearresteer.

Volgens Aldo Venter, die voorsitter van AfriForum se Ellisras-tak, is die samewerking tussen verskillende veiligheidsrolspelers van kardinale belang om seker te maak dat misdadigers en onwettige immigrante in dié gebied vasgetrek word. “Ons as ’n gemeenskap moet saam staan en mekaar help in die geveg teen misdaad. Ek doen daarom ’n beroep op die gemeenskap om in te skakel by veiligheidstrukture en ons te help om ’n verskil te maak.”
“Veiligheid is ’n groot prioriteit vir AfriForum se Ellisras-tak. Elke lid van die buurtwag speel ’n sleutelrol en ons moedig inwoners aan om betrokke te raak sodat ons vry, veilig en voorspoedig kan leef,” sê Jaco Grobbelaar, AfriForum se distrikskoördineerder vir Limpopo.

Jy kan help om jou omgewing te beveilig – raak by jou plaaslike AfriForum-buurtwag betrokke deur “Buurtwag” te SMS na 45340 (R1).

Soortgelyke plasings