|

AfriForum-buurtwag help met arrestasie ná aanval op 91-jarige in Bothaville

’n Misdadiger wat ’n 91-jarige vrou verlede Donderdag (25 April) in haar huis op Bothaville oorval het, het sy rieme styf geloop nadat AfriForum se plaaslike buurtwag, die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en CSS Security saamgewerk het om dié verdagte blitsig aan te keer.

Die slagoffer, woonagtig in Theronstraat, is Donderdag teen omstreeks 14:00 oorval toe die verdagte haar voordeurklokkie gelui het en vir ’n tuinslang en water gevra het. Die verdagte het egter die deur oopgeforseer, die inwoner met ’n skroewedraaier gedreig en haar hande agter haar rug met ’n selfoonlaaierkabel vasgemaak. Hierna het hy voortgegaan om haar selfoon, sekere kruideniersware en drank te steel. Hy het die toneel verlaat sonder om die vrou verder te beseer.

Die insident is dadelik aan die SAPD, AfriForum-buurtwag en CSS gerapporteer. Die 33-jarige verdagte is kort daarna deur die drie instansies aangekeer. Die kruideniersware en drank was nog in sy besit, maar die selfoon kon nie opgespoor word nie.

Die verdagte het Vrydag (26 April) op aanklag van huisbraak in die hof op Bothaville verskyn.

“Hierdie blitsige arrestasie is weereens ’n bewys van die sukses wat deur samewerking tussen die gemeenskap, owerhede en ondernemings bewerkstellig kan word,” verduidelik Alta Pretorius, AfriForum se streekskoördineerder in die Mooirivier-streek.

Sy waarsku inwoners om paraat te wees en nie aan vreemdelinge toegang tot eiendom te gee nie. Kwesbare lede van die gemeenskap word dikwels geteiken met versoeke om hulp, maar dit word telkens met voorbedagte rade gedoen. As ons op en wakker is, sal ons in baie gevalle daarin slaag om misdadigers se slinkse planne te fnuik,” verduidelik Pretorius. “Kontak eerder jou plaaslike buurtwag of die SAPD indien jy onraad vermoed.”

Soortgelyke plasings