|

AfriForum versoek optrede van nasionale polisiekommissaris

AfriForum het vandag ’n skrywe aan genl. Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, gerig waarin die burgerregteorganisasie versoek dat hy ’n ondersoek loods na die Wes-Kaapse provinsiale polisiekommissaris en haar bestuurspan se ondeurdagte optrede tydens die hantering van ’n vreedsame protes in die Kaapstadse middestad.

AfriForum het op 24 Julie 2020 ’n skrywe aan lt.genl. Yolisa Matakata, Wes-Kaapse polisiekommissaris, gerig waarin die organisasie redes versoek het vir die onnodige en hardhandige hantering van lede van die toerismebedryf. Die organisasie het in die skrywe sy skok uitgespreek oor die brutale en hardhandige hantering van dié lede wat in Kaapstad aan ’n vreedsame betoging deelgeneem het. Die SAPD het protesgangers met ’n waterkanon gespuit en met traangas en skokgrenate uiteengejaag.

Ná verskeie aanmanings aan die provinsiale polisiekommissaris om ’n verduideliking te verskaf, het die organisasie uiteindelik op 27 Augustus ’n skrywe van Matakata ontvang waarin sy meld dat, ingevolge Regulasie 37 van die Rampbestuurswet, alle samekomste verbied is met sekere uitsonderings, waarvolgens dié vergadering nie binne die lys van uitsonderings vervat word nie.

“Die SAPD se optrede tydens die vreedsame optog waar die deelnemers as sagte teikens geïdentifiseer is, in teenstelling met hul huiwering om op te tree waar mense se eiendom en lewens deur kriminele en gewelddadige elemente bedreig word, dui op substandaard opleiding en die gepaardgaande onvermoë van die SAPD om wet en orde te handhaaf. In die lig hiervan het AfriForum ons misnoeë te kenne gegee oor Matakata se flou verweer en haar stelling verwerp dat die gebruik van die waterkanon in dié geval deel uitmaak van minimum geweld,” sê Thomas van Dalen, AfriForum se waarnemende hoof van Gemeenskapsveiligheid vir die suidstreek.

Van Dalen het afgesluit deur te sê dat AfriForum positief is dat die nasionale polisiekommissaris hul versoek in ’n positiewe lig sal bejeën.

Soortgelyke plasings