|

AfriForum-buurtwag in Bellville verwelkom hommeltuigvlieëniers

AfriForum-buurtwag in Bellville, wat deel van die organisasie se Kaapstad-Noord-tak uitmaak, het onlangs twee hommeltuigvlieëniers in Orania laat oplei. Dié vlieëniers, Johan Fritz en Eben Nel, gaan die AfriForum-buurtwagte in die Kaapse metropool voortaan met veiligheidsaksies ondersteun.

Buurtwagte kan hommeltuie aanwend om areas te verken sonder om persone in gevaar te stel. Inligting wat tydens verkenning ingewin word – byvoorbeeld van brandpunte in die direkte omgewing, moontlike wapens en die teenwoordigheid van verdagtes – kan die SAPD en ander sekuriteitsdienste in hul werk ondersteun.

Dié vlieëniers is opgelei in die regsaspekte van hommeltuigvlugte, hoe om die hommeltuig veilig te beman en ook om tydens operasies suksesvol met grond-tot-lug-radio’s te kommunikeer. Vlieëniers werk in spanne van twee tydens veiligheidsoperasies, maar albei operateurs kan die tuig beheer.

“AfriForum sal voortgaan om mense te bemagtig om hulself en hul gemeenskappe te beveilig. Ons glo dié hommeltuigopleiding gaan nog vele suksesse in die toekoms verseker,” sê Johardt van Heerden, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland.

SMS “Veilig” na 45353 (R1) om by een van AfriForum se veiligheidstrukture betrokke te raak.

Soortgelyke plasings