|

AfriForum-buurtwag in Stilfontein hou gemeenskap veilig gedurende Junie

Die AfriForum-buurtwag in Stilfontein het in Junie sowat 5 285 km afgelê tydens die 149 patrollies wat hulle gery het om sigbaarheid in die dorp te verhoog en sodoende die gemeenskap veilig te hou.

Die buurtwag het ook op Vadersdag in agt voertuie die omgewing rondom die begraafplaas patrolleer sodat gemeenskapslede sonder vrees hul geliefdes se grafte kon besoek. Dae soos Vadersdag en Moedersdag het gewoonlik tot volg dat talle gemeenskapslede ’n draai by die begraafplaas maak en hierdie besoekers is veral sagte teikens vir misdadigers.

Die buurtwag het ook verskeie arrestasies gemaak waaronder vir die beskadiging van eiendom en diefstal, diefstal en besit van koper kabels en die besit van gesteelde eiendom. Die verdagtes is aan die SAPD oorhandig vir prosessering en aanhouding. Buurtwaglede het ook op verskeie tonele van diefstal en koper kabeldiefstal bystand gelewer aan die SAPD.

Daar is verskeie leë huise in Stilfontein wat op ’n gereelde basis deur die buurtwag besoek word om te verseker dat misdadigers nie hierdie huise gebruik as wegkruipplek of wegsteekplek vir gesteelde goedere nie.

Ander insidente waar die buurtwag die gemeenskap bygestaan het was op die tonele van verskeie motorongelukke, inligting versamel oor gesteelde eiendom en moontlike dwelmhandel, verdagte voertuie en persone is ook aan die SAPD aangemeld.

Die buurtwag en lede van die publiek het ook spoedig reageer tydens ’n brand by ’n woonstel waar hulle dadelik pogings aangewend het om die brand te blus.

Hoewel Junie verskeie uitdagings vir die buurtwag ingehou het, soos die besering wat een van die buurtwaglede opgedoen het tydens ’n arrestasie, het die buurtwag steeds gewys hoe toegewyd hulle is om misdaad in die dorp te bekamp.

“Die sukses van hierdie buurtwag kan absoluut toegeskryf word aan hulle deursettingsvermoë en toegewydheid aan die gemeenskap van Stilfontein. Elkeen van hierdie lede se lewensdoel is om die gemeenskap te dien en te help waar daar nood is,” sê Marius Trollip, leier van AfriForum se Stilfontein-buurtwag.

Soortgelyke plasings