|

AFRIFORUM-BUURTWAGLEDE, DIE SAPD, HPG EN ANDER TREK VERDAGTES VAS

Die AfriForum-buurtwagte in Potgietersrus, Pietersburg, Naboomspruit, Nylstroom en Warmbad het op Saterdag 24 Julie in samewerking met die SAPD, Heritage Protection Group (HPG) en ander gehelp om drie verdagtes vas te trek wat op 21 Julie uit polisieaanhouding ontsnap het.  

Vier verdagtes is op 21 Julie deur ’n polisiebeampte van Pietersburg – waar hulle in aanhouding was – na Potgietersrus vervoer waar hulle in die hof moes verskyn. Die polisiebeampte het by Eerstegoud Trading Store gestop op pad na Potgietersrus om koeldrank vir homself en die verdagtes te koop. Kringtelevisiebeeldmateriaal wys hoe die polisiebeampte die vangwa oopmaak om na bewering die koeldrank vir die verdagtes aan te gee toe hy oorrompel is en hulle weggehardloop het. Hy is ook volgens hom van sy dienspistool beroof.  

’n Soektog is van stapel gestuur deur verskeie AfriForum-buurtwagte, die SAPD, HPG en plaaslike GPF. Die verdagtes het na bewering Woensdagaand ’n vragmotor op die N1 naby Eerstegoud gekaap. Die AfriForum-buurtwag in Potgietersrus het die drywer se noodoproep ontvang en die vragmotor in Potgietersrus ingewag maar die verdagtes het reeds, volgens die drywer, by Ysterberg net voor Potgietersrus afgeklim.  

Vrydagaand het die verdagtes rondom middernag met ’n gekaapte vragmotor by ’n padblokkade by Kranskop Plaza aangekom, hulle het die vragmotor verlaat en te voet op die vlug geslaan. ’n Massasoektog is weer van stapel gestuur.  

Die soektog het eindelik tot sukses gelei toe drie van die verdagtes, Clifford Matonhori (31), John Fine (39) en Figos Madisha (40) Saterdagmiddag in die Eersbewoond-omgewing vasgetrek is. Die dienspistool wat afgeneem is by die polisiebeampte is ook teruggevind. Die vierde verdagte, Dennis Hove (39), is nog op vrye voet.  

“Ek wil graag almal wat deelgeneem het aan dié soektog hartlik bedank. Deur saam te werk en gedissiplineerd te wees, kan ons saam ons gemeenskappe beveilig,” sê Andries Opperman, AfriForum se provinsiale veiligheidskoördineerder vir Limpopo.  

Gaan na https://t.me/AfriForumBuurtBot en voltooi ’n kort verifikasie om op die AfriForum-buurtwag se Telegram-groepe gevoeg te word. 

Soortgelyke plasings