| | |

AfriForum en Saai beplan versetpatrollie in reaksie op teenstand teen buurt- en plaaswagbedrywighede

Die burgerregteorganisasie AfriForum en die familieboernetwerk Saai sal enige teenstand beveg vanuit staatsgeledere teen buurt- en plaaswagte wat wettige bedrywighede hervat. Dié organisasies moedig buurtwagte aan om patrollie te ry, ten spyte van voorvalle van teenkanting wat by die organisasies aangemeld is. AfriForum en Saai sal ook regshulp bied aan enigeen wat kwaadwillig vervolg word in die wettige uitvoer van buurt- of plaaswagbedrywighede.

AfriForum en Saai beoog ook om op 6 Junie 2020 ’n landwye versetpatrollie te hou ten spyte van – in sommige gevalle – heftige teenstand deur senior regeringsbeamptes teen buurtwagte wat patrollie ry. Buurt- en plaaswagte was ingevolge regulasies nie tydens vlak 4- en vlak 5-inperking operasioneel nie, maar regulasie 33 (1), wat dr. Nkosazana Dlamini Zuma, Minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, op 28 Mei 2020 uitgevaardig het, stel dit duidelik dat mense hul woonplekke mag verlaat om spesifieke dienste te lewer, met uitsondering van aktiwiteite soos genoem in tabel 2 van dié regulasies. Buurt- en plaaswagte word nie in dié tabel genoem nie.

Volgens Ian Cameron, hoof van Gemeenskapsveiligheid by AfriForum, is daar in baie gevalle uitstekende samewerking tussen buurt- en plaaswagte en die SAPD. “Dit blyk egter nou dat sommige hooggeplaaste regeringsamptenare se hooffokus nié die bekamping van misdaad is nie, want dit is presies wat buurt- en plaaswagte doen. Dit is ons grondwetlike reg om onsself binne die raamwerk van die wet te beskerm en ons moedig daarom alle buurt- en plaaswagte aan om hul bedrywighede te hervat. AfriForum verwag dat daar tydens vlak 3-inperking ’n toename in misdaad gaan wees. Dit is daarom nou belangriker as ooit dat misdadigers besef dat ons gemeenskappe weerbaar is,” sê Cameron.

“Saai het oor die afgelope paar dae reeds ’n toename in plaasaanvalle opgemerk. Ons wil hê ons boere moet hulself kan beskerm, en een van die belangrikste maniere om dit te kan vermag, is deur plaaspatrollies. Veral op plase kan mense nie net op die polisie staatmaak vir beskerming nie. Die boerderygemeenskap speel ’n onskatbare belangrike rol om mense se veiligheid te help verseker. Ons kan nie toelaat dat die polisie gemeenskappe intimideer wanneer hulle bloot hulself en hul eiendom op ’n wettige wyse wil verdedig nie,” sê dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai.

AfriForum en Saai is bereid om enigeen – dus nie slegs lede van AfriForum- of Saai-strukture nie – te help wat onregmatig benadeel word in die uitvoer van wettige buurt- of plaaswagbedrywighede.

Stuur ’n e-pos na veiligheid@afriforum.co.za om onregmatige optrede teen wettige buurt- of plaaswagbedrywighede aan te meld.

Soortgelyke plasings