AfriForum daag Eskom voor hof oor kontrakinligting

Die burgerregteorganisasie AfriForum het regsaksie teen Eskom geneem om inligting rakende  die kragverskaffer se omstrede kontrakte in te win. AfriForum het op 12 Julie 2022 ’n aansoek ingevolge die Wet op Openbare Toegang tot Inligting (PAIA) op Eskom beteken. Die PAIA-aansoek het inligting oor aktiewe kontrakte geëis wat Eskom met verskeie diensverskaffers het, insluitend steenkoolverskaffers en vervoermaatskappye.

Eskom het op hierdie aansoek geantwoord, maar sleutelinligting is geredigeer en van AfriForum weerhou. Die burgerregteorgnisasie het op 28 September 2022 interne appèl aangeteken, asook daarop gewys dat Eskom nie ’n voldoende verduideliking van waarom die inligting weerhou is, gegee het nie. Daarom het AfriForum aangevoer dat Eskom nie aan die PAIA-wet gehoor gegee het nie. Eskom het egter nie op die interne appèl gereageer nie en AfriForum is nou genoodsaak om regstappe te doen met die doel om ’n hofbevel te bekom wat Eskom verplig om dié inligting vry te stel.

“Die mislukking van Eskom is besig om die land onberekenbare skade te berokken. Daarom veg AfriForum in die hof vir deursigtigheid en dat die inligting oor Eskom se kontrakte bekend gemaak moet word. Indien AfriForum met die aansoek slaag en enige ongerymdhede gevind word, sal daar op die strengste moontlike wyse teen Eskom opgetree word,” sê Reiner Duvenage, veldtogbeampte vir strategie en inhoud.

Steun AfriForum se petisie hier.

Soortgelyke plasings