| |

Nasionale Departement van Basiese Onderwys gaan genader word om by Phoenix High School-krisis in te gryp

Herhaalde pogings deur AfriForum se privaatvervolgingseenheid om die Gautengse Departement van Onderwys (GDO) te kry om met Phoenix High School se skoolbeheerliggaam te vergader, het op dowe ore geval. Dit het baie duidelik geword dat politieke oorwegings tot nadeel van die skoolgemeenskap die baie werklike vooruitsig oorskadu dat honderde leerders sonder ’n plek waar hulle kan leer en ontwikkel gelaat gaan word. Die volgende stap vir die eenheid is om die Nasionale Departement van Basiese Onderwys te nader vir sy dringende ingryping.

Die eenheid het die eerste keer op 4 Oktober aan die Gauteng-onderwysdepartement sowel as die provinsiale regering geskryf en versoek om met die skoolbeheerliggaam te vergader. Die skool probeer al byna ’n dekade lank om kwessies op te los wat verband hou met die eienaarskap van die grond waarop die skool gebou is, wat nou die voortbestaan van hierdie instansie wat ’n benadeelde gemeenskap dien, bedreig.

Phoenix High School is in Vereeniging geleë. Dit is die voormalige Hoër Tegniese Skool Vereeniging maar is in 2013 na ’n Engelsmedium-skool verander, en herdoop na Phoenix, om die benadeelde gemeenskap te dien. Sowat 900 leerders woon die skool by.

Die skool het vervalle geraak weens die onsekerheid wat deur die vraagstuk oor die eienaarskap van die grond geskep is. Die skoolbeheerliggaam sê verder dat die Gauteng-onderwysdepartement skootrekenaars, tablette en ander gevorderde leermateriaal weerhou het as gevolg van die onsekerheid van die skool se toekoms, wat direk met die grondkwessie verband hou.

In ’n opvolgbrief het die hoof van die eenheid, adv. Gerrie Nel, geskryf: “Ons bly onwrikbaar in ons verbintenis om Phoenix High School en sy leerders se regte te beskerm. Jare se gebrek aan optrede en die volstruisbenadering tot hierdie kwessie skep die onafwendbare afleiding van ’n doelbewuste versuim in die hoop dat dit sal verdwyn. Ons sal ons kliënt se pogings ondersteun om ’n beter toekoms vir die skool en sy leerders te verseker, en ons sal nie opgee nie.”

“Ons benadruk ons versoek vir ’n hoëvlakvergadering tussen die regering en die skoolbeheerliggaam om die skool se huidige verknorsing te bespreek. Ons smeek die regering om die historiese fout waar staatsgrond in privaat besit beland het, te bevraagteken en reg te stel en beklemtoon die feit dat hierdie eienaardige transaksie nou duidelik die toekoms van ’n geen-fooi-skool en sy leerders benadeel.”

Met sy onlangse verkiesing as premier van Gauteng, het Panyaza Lesufi, voormalige LUR vir onderwys, belowe om “onderwys as ’n katalisator van die provinsie se ekonomiese ontwikkeling te prioritiseer”. Sulke oënskynlike toewyding staan in skrille kontras met die houding wat ingeneem word in die hantering van Phoenix High School. Die onafwysbare afleiding is dat daar oorwegings is wat swaarder weeg as die opvoedkundige behoeftes van byna duisend leerders, en daardie oorwegings is altyd polities.”

Die oordrag van die grond het op ’n eienaardige wyse plaasgevind. Die eienaardigheid van die transaksie kan die onwilligheid van die Gauteng-onderwysdepartement en politici verklaar om die lot van die skool te hanteer.

Die grond word deur Erf 4 en 6 Duncanville Vereeniging (Edms.) besit. Mohammed Essop Dockrat is een van die direkteure en het die huurkontrak van die grond aan die Gauteng-onderwysdepartement namens die huurder onderteken. Die ontwikkelaar, wat terreininspeksies by die skool gedoen het en dorpsbeplanningsake namens die grondeienaar hanteer het, is A4 Advisory and Consulting met Attiya Dockrat as die enigste direkteur. Rekords toon hierdie onderneming deel dieselfde besigheidsadres en werk vanaf dieselfde perseel as Sedgars en Sedtrade.

Die Dockrat-familie was voorheen betrek by bewerings oor korrupsie- waarby senior ANC-figure, Ace Magashule en Fikile Mbalula, betrokke was.

Ons het geen ander keuse as om hierdie kwessie op nasionale vlak te opper in die hoop dat die lot van die skool ernstig opgeneem word nie. Daar word ook oorweeg om die howe te nader om die Gauteng-onderwysdepartement by wyse van ’n mandamus te dwing om net hul plig te doen. “Dit het kenmerkend van die regering geword om probleme te ignoreer in die hoop dat dit sal verdwyn of deur iets selfs groters vervang sal word,” sê Barry Bateman, woordvoerder van die privaatvervolgingseenheid.

“Die versuim van die Gauteng-onderwysdepartement om die benarde posisie waarin die skool hom bevind op te los, sowel as die eienaardigheid van die transaksie waar grond in staatsbesit aan ’n private entiteit verkoop is net om dit weer terug te verhuur, sal nie verdwyn nie.”

Minister Angie Motshekga het tydens ’n geleentheid in Augustus vanjaar gesê die “transformatiewe aard van basiese onderwys vereis dat ons geleenthede tot toegang tot onderwys vir … die armes en die kwesbares moet vermeerder … Ons moet innoverende oplossings vir die gaping tussen … ryk en arm skoolgemeenskappe vind”.

In Julie, by ’n ander geleentheid, het sy gesê: “Ons moet na noodsaaklike transformerende maniere kyk, soos toegang tot skoolonderrig onder arm huishoudings en kwaliteit onderrig, wat aan … verarmde woonbuurte verskaf word.”

“Phoenix High School, sy leerders en hul ouers val vierkantig binne hierdie kategorieë wat aandag verg. Ons sal Motshekga vra om te doen wat die Gauteng-onderwysdepartement vir bykans ’n dekade versuim het om te doen,” sluit Bateman af.

Soortgelyke plasings