|

AfriForum se Klerksdorp-tak herstel waterlek

Die AfriForum-tak in Klerksdorp het op 6 Oktober ’n foutiewe flens (“flange”) in die waterklep in Elandsheuwel- en Leemhuisstraat herstel nadat die munisipaliteit in gebreke gebly het om dit te doen en daar derduisende liter varswater verlore gegaan het. Dié waterlek het ook groot skade aan die oppervlak van Leemhuisstraat veroorsaak.

Hierdie waterlek kom al meer as ’n maand en dit is tevergeefs aan die munisipaliteit gerapporteer. Hulle verweer was dat dit ’n baie groot probleem was en dat ’n klep vervang moes word. Hulle kon dit blykbaar nie herstel nie aangesien hulle nie voorraad het, of die geld het om een aan te koop nie. 

Dié tak kon hierdie vermorsing nie langer aanskou nie en het ’n privaat wateringenieur gekontak om hulp te verleen wat dadelik daartoe ingestem het. Die probleem blyk toe nie so groot te wees nie en slegs ’n flens moes vervang word. Die flens is laat maak en vervang nadat die munisipaliteit daartoe ingewillig het. Hierdie wenspan het die probleem in minder as drie ure opgelos.

Hierdie tak het ook besluit om die toestand van Leemhuisstraat te takel en is reeds met beplanning besig.

“Hierdie is weereens ’n bewys dat wanneer die gemeenskap in tye van nood saamstaan, die probleem in rekordtyd opgeklaar kan word,” sê Frans Roos, voorsitter van die Klerksdorp-tak.

“Ek is trots op die groot verskil wat dié tak gemaak het en ek bedank graag Frans Roos, Theo Gresse en Romke de Jongh wat vasgestaan het en iets gedoen het. Ek bedank ook die wateringenieur wat nie gehuiwer het om te help nie. Ons kan self, maar ons kan nie alleen nie,” sê Alta Pretorius, distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Word deel van die oplossing: SMS “Klerksdorp” na 45344 (R1).

Soortgelyke plasings