|

AfriForum eis aksieplan van Cogta in KwaZulu-Natal

AfriForum het vandag ’n brief aan Bongiwe Sithole-Moloi, LUR vir Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (Cogta) gestuur waarin versoek word dat ’n plan van aksie binne 30 dae beskikbaar gestel word van hoe die munisipaliteite in KwaZulu-Natal (KZN) skutte gaan ontwikkel. Dit volg nadat verskeie munisipaliteite nie aan die KwaZulu-Natal se Skutwet, 2006 (Wet No. 3 van 2006) voldoen nie.

Dié wet vereis dat elke munisipaliteit in KZN binne 12 maande nadat die wet inwerking gekom het, ’n skut moet bou en ’n skutmeester in beheer daarvan plaas.

“Die feit dat munisipaliteite nie ’n skut het nie, maak dit moeilik vir die owerhede om op te tree, veral wanneer dit kom by rondloperbeeste wat dikwels met veediefstal verbind word, aangesien hulle nie wettig en veilig aangehou kan word nie,” sê Eugene van Aswegen, AfriForum se provinsiale koördineerder vir KwaZulu-Natal.

“Ons dra kennis van munisipaliteite wat selfs nasionale toelae ontvang het om ’n skut te bou – dié geld is egter binne ses maande gesteel. Ons sien geen politieke wil om hierdie wet na te kom nie,” sluit Van Aswegen af.

AfriForum se regspan sal verdere stappe oorweeg indien die LUR nie aan hierdie versoek gehoor gee nie.

Soortgelyke plasings