| |

Matjhabeng-munisipaliteit reageer ná volgehoue druk deur AfriForum

AfriForum se Welkom-tak het die Matjhabeng Plaaslike Munisipaliteit in Julie vanjaar op terme geplaas oor die toestand van die vullisterreine in hierdie gebied. Nie een van die vullisterreine binne die munisipaliteit se jurisdiksie voldoen aan die nasionale vereistes nie. Die burgerregte-organisasie het vroeër vanjaar vullisterreine in die volgende dorpe geoudit: Virginia, Bronville, Hennenman en Odendaalsrus.

AfriForum het versoek dat die toestand van die vullisterreine onmiddellik ondersoek moet word en dat ’n plan van aksie saamgestel word sodat hierdie vullisterreine aan die nodige vereistes voldoen.

Die munisipaliteit het via hul Facebook-blad gekommunikeer dat hulle bewus is van die toestand van die vullisterreine, asook die onwettige storting van vullis buite die toegewysde gebiede. Die munisipaliteit het ’n tussentydse afvalbestuurskomitee gestig om die probleme, wat die verwydering van vullis insluit, op te los. Die munisipaliteit noem ook dat die onwettige storting van vullis ’n groot probleem is en dat wetstoepassers versoek is om boetes uit te reik aan enige persoon wat daaraan skuldig is.

“AfriForum sal voortgaan om druk op die munisipaliteit uit te oefen om te verseker dat die vullisterreine aan die nodige vereistes voldoen en dat die nodige aandag aan hierdie probleme gegee word. Swak bestuur van vullisterreine kan verskeie probleme inhou, waaronder gesondheidsrisiko’s en brandgevare. Dit is uiters belangrik dat vullisterreine reg bestuur word en dat die huidige probleme dadelik uit die weg geruim word,” sê Jp Nel, AfriForum se assistentkoördineerder vir die Hoogland.

AfriForum se Welkom-tak het ’n dringende vergadering met die munisipaliteit versoek om ondersoek in te stel oor die plan van aksie wat die munisipaliteit gaan implementeer om die onderskeie vullisterreine te verbeter. Hulle gaan ook bespreek hoe die munisipaliteit te werk sal gaan om die huidige probleme met betrekking tot die vullisterreine op te los.

AfriForum se Welkom-tak nooi die gemeenskap uit om betrokke te raak by die organisasie se toekomstige projekte en aksies. Sluit by AfriForum aan en word deel van die oplossing: SMS “Welkom” na 31481 (R1).

Soortgelyke plasings